Die regering se volharding om voort te gaan met die viering van Gewapende Magte-dag te midde van ramptoestande weens die kragkrisis en vloede in die land bewys weer hoe uit voeling die regerende party met mense op voetsoolvlak is.
Dit is nie net ’n vermorsing van R220 miljoen van belastingbetalers se geld nie, maar wat veronderstel was om ’n “toonvenster” te wees, het ontaard in ’n verleentheid omdat die geleentheid opnuut die soeklig laat val het op die verval van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag.
Die weermag het ’n trotse geskiedenis, veral wat reddingspogings gedurende rampe betref. Op 4 Augustus 1991, toe 16 helikopters die sinkende Oceanos te hulp gesnel het, was 13 daarvan Pumas wat deur die Suid-Afrikaanse Lugmag ontplooi is. En gedurende vloede in Mosambiek het die lugmag in die verlede gehelp om lewensverlies te voorkom.