Toe die meubelvervoerwa in die herfs van 1982 met ons aardse besittings Bedford inry, was ons ’n jong gesin. Ons kinders was nog nie eens in die grootskool nie. Die gryse was 29 en is pas bevorder by Telkom. Ek was 24. Omdat dit die jare was waarin iets soos oorplasings nog bestaan het, het ek summier by Standard Bank ingestap as navraeklerk.
Wat ’n nagmerrie. Bedford was grootliks ’n Engelse dorp. Eg Engels. Afgetree meestal uit Brittanje en Zimbabwe. En ek het grootgeword in die Klein-Karoo, waar Engels selde gehoor is. Al Engels wat ons gepraat het, was mondeling in die Engelse klas. My is’s en are’s het spontaan verstrengel. Vir die gryse was dit maklik, want hy het Engels grootgeword in Umtata. So kom ons ooreen dat hy my met sy korrekte Engels sal ondersteun sodat ons meer Engels met die kinders kan praat.
Dekades later, toe ons in 2017 op die bootreis op die Engelse kanale was, had ons die reg om in vrede aan mekaar te sê waarvoor ons mekaar nooit vergewe nie.