By Melkbos stap die vrou en die seuntjie links van die geel streep op die Weskuspad. In die een hand dra sy ’n pienk sak en met die ander hou sy die kind se hand vas. Dis die Dinsdag voor Goeie Vrydag.
Moet net nie omkyk nie, praat ek met haar in my gedagtes. Maar sy kyk in my rigting en druk ’n skugter duim in die lug. Nee, nee, nee.
Die suidooster maal die bloekoms langs die pad deurmekaar. ’n Vrou en ’n kind hoort nie hier nie. Hou maar stil. Sy is aantreklik op ’n beleë manier, ’n Diana Ross met ’n donkerbril, wat moontlik by ’n Chinese winkel gekoop is.