Die rede waarom die André de Ruyter-onderhoud die ANC so skouspelagtig van balans geruk het, is nie dat dit wat hy kwytgeraak het enige verrassings vir die kamerade bevat het nie. Inteendeel.
Die onverwagte was dat iemand die moed van sy oortuiging gehad het om daaroor te praat. (Kom nou daarvan om nie ’n ontplooide kader in so ’n pos te plaas nie, maar eerder iemand wat geglo het hy verrig ’n taak in landsbelang.)
Die ANC het gehoop, soos hul taktiek met Jacob Zuma was, om van die verdagte rolspelers geleidelik uit te skuif na aftrede en dat die probleem gaandeweg sou verdwyn. En dit was ook nou op hande vir die persoon van wie die naam deur De Ruyter aan Pravin “Ja-Ja-Dit-Was-Ek” Gordhan genoem is.