Dit lyk dalk na iets alledaags in Suid-Afrika, maar om te protesteer is eintlik ’n fyn kuns, skryf Cas Wepener.
Verlede jaar versamel ’n Gideonsbende voor ons fakulteit op Stellenbosch. Hulle het gewapen met groot wit plakkate aangemeld om te protesteer teen ’n konferensie wat in die Kweekskool aan die gang was. Ek moet erken, ek was opgewonde oor hulle teenwoordigheid. Nie soseer oor die teologie wat hulle verteenwoordig het nie, maar oor die plakkate.
Protespoësie interesseer my. Teologies het hulle teleurgestel, maar vanuit ’n literêre oogpunt verdien hulle ’n eervolle vermelding by ons land se nimmereindigende Protespoësie-eisteddfod. Daardie eisteddfod wat nie alleen op universiteitskampusse gehou word nie, maar oral in ons land, in strate en op pleine, selfs in die parlement.