Min dinge illustreer die mens se trop-mentaliteit so helder as die ewige soeke na maniere om gewig te verloor. Elke paar jaar is daar ’n nuwe gier, ’n blink maermaak-wa om te bespring.
So 20 jaar terug was dit groentee. Chinese groentee, gewaarborg om met die gereelde inname van bekers van die goed die oortollige kilogramme van jou middel af weg te smelt soos mis voor die son. Maak nie saak waar ’n mens gekom het nie, almal was aan die groentee drink. Douvoordag langs die koringlande, op gespanne sake-vergaderings en ten tyde van Sondag-stoepkuiers, dis groentee hier en groentee daar.
Die probleem was egter dat diegene wat die gier gevolg het, sal onthou dat Chinese groentee proe soos die armholte van ’n donkie wat vir drie dae in ’n put vol ou strooi vasgesit het. En anders as die kreef, kon ’n mens net nie aan die smaak gewoond raak nie en die groentee-gier het onseremonieel gesneuwel.