In die negentigerjare val die eer my te beurt om klas te gee aan Wits se Afrikaans-Nederlands-departement. Die departementshoof was toe prof. Edith Raidt, voorste taalhistorikus. Ek was ook bevoorreg om Gerrit Olivier, John Miles, Marlene van Niekerk en Ena Jansen te leer ken, mense van hoogstaande intellektualiteit en kreatiwiteit.
Kort voor 1994 verval regstudente se verpligting om een Afrikaanse kursus te slaag. Tot op daardie punt het dit Afrikaans-Nederlands-departemente op Engelse kampusse soos Wits en Ikeys buite verhouding groot eerstejaargetalle besorg, terwyl studente wat die vak tot op nagraadse vlak gevolg het, maar min was. Om skielik ruim ’n duisend studente te verloor, was ’n befondsingsramp wat dié departemente kwalik sou oorleef.
Vir prof. Raidt leer ek egter veel vroeër ken. In die sewentigerjare was sy my pa, Roy Pheiffer, se promotor vir sy doktorsgraad oor die Hugenote se gebrekkige aanleer van Nederlands en hoe dit ’n faktor kon wees in Afrikaans se vorming. As seuntjie onthou ek dié innemende vrou met haar groot oë, hartlike glimlag en netjiese bolla. Ek onthou hulle ook by my pa se gradeplegtigheid in hul bollende bloedrooi togas.