Dat die mens besig is om geweldige skade aan die natuur aan te rig, is vir niemand nuus nie. Die gesaghebbende sir David Attenborough, natuurlewekenner en rolprentmaker, is al vir etlike dekades diep bekommerd oor die verlies aan biodiversiteit.
Foto’s van hoe die Amasone vernietig word, enorme veldbrande in Australië en storms aan die ooskus van Amerika of Suider-Afrika is duidelike tekens van klimaatsverandering. ’n Nuwe Netflix-dokumentêr, Seaspiracy, vertel ’n grusame verhaal van oseaanbesoedeling. Die implikasies van dit als is duidelik: Die natuur word vertrap.
Ons het net onsself te blameer. Daar is agt keer meer van ons as twee eeue gelede en ons is 18 keer ryker, wat beteken ons eet meer, gebruik meer energie en gooi meer plastiek weg as ooit vantevore. Ons versugtings verdring ander spesies se ruimte om te floreer. Twee groot gevolge is klimaatsverandering en biodiversiteitsvernietiging.