Dis hoe die meeste van ons spaar vir ons oudag: Jy gaan sien ’n makelaar wat vir jou ’n polis by ’n groot finansiële instelling uitneem. Jy deponeer elke maand ’n bedrag in hierdie rekening, en vertrou dat die instelling se beleggers jou geld veilig op plaaslike en internasionale effektebeurse sal belê.
Hierdie beleggers weet tog wat hulle doen; hulle is immers opgelei in die tipe analise wat hulle help om op die regte tyd te koop en verkoop. En daarvoor neem hulle ’n klein tarief.
Dis daardie bestuursbedrag wat ook ’n groot hap in jou toekomstige opbrengs maak. Dink so daaraan: Gestel jy is ’n 25-jarige met ’n R25 000-aftreefonds waartoe jy elke jaar R10 000 voeg. Die fonds verdien 7% per jaar en jy beplan om oor 40 jaar af te tree. As die bestuursbedrag slegs 1% is, sal jy op die uiteinde 25% minder verdien oor die 40 jaar: R1,8 miljoen in plaas van R2,3 miljoen, ’n wesenlike verskil.