Bekendes se doen en late staan my nie regtig aan nie. As ek na die Oscars se heruitsending kyk, fast forward ek deur die toesprake, want eintlik wil ek net die vroue se rokke sien.
Die wenners klink almal dieselfde. Hulle prys die ander benoemdes, bedank hul gades omdat hulle so ondersteunend is en stuur groete vir ouma wat hulle van kleins af aangemoedig het.
Hollywood is ’n vreemde, vreemde plek. Dit het ek 25 jaar gelede al besef toe ek Los Angeles besoek het vir die uitreiking van die rolprent Air Force One met Harrison Ford in die hoofrol. Ek gaan grawe in my kas en ontdek ’n dagboek wat ek tydens my besoek gehou het.