Die hoogs vreemde omstredenheid wat rondom die Universiteit van Stellenbosch (US) se kanselierskap ontstaan het, is wel iets waaroor die spreekwoordelike horlosie teruggedraai kan word. En daarvoor rus die onus vierkantig by oudregter Edwin Cameron.
Hy kan met volle behoud van sy waardigheid en integriteit bloot staan by die oorspronklike gesonde oordeel wat hy aan die dag gelê het.
Hy het op 2 Augustus in ’n brief aan US-rektor Wim de Villiers verwys na die belangebotsing van sy betrokkenheid by die konstitusionele hof se uitspraak oor die universiteit se taalbeleid en om as kanselier beskikbaar te wees.