Hier is ’n vraag aan diereregte-aktiviste wat weens morele redes teen jag gekant is: Wat staan jou te doen wanneer ’n hele ekosisteem bedreig word deur een spesie wat dominant geraak het en ’n gevaar inhou vir alle ander spesies? Of wanneer ’n ekosisteem bedreig word omdat daar a) geen geld is om dit te bestuur nie, en b) mense die wildlewe as ’n bedreiging pleks van ’n voordeel beskou?
Kom ons stel ons voor dat die natuurreservate in Afrika eilande is – eilande van biodiversiteit, eilande van natuurlewe. Maar die eilande is omring deur swak landbougrond met groeiende menslike bevolkings wat die eilande vir landbougebruik en bosvleis begeer.
En hulle sien hoe ryk toeriste wat die eilande besoek meer in ’n week bestee as wat hulle in ’n jaar verdien. En slegs ’n handvol van hulle is op die eilande in diens. Dit is ’n ingewikkelde situasie, of hoe?