Die konstitusionele hof se uitspraak in 2020 dat die Kieswet se bepaling dat net lede van politieke partye parlementslede mag word ongrondwetlik is, is destyds met groot gejubel begroet.
Net soos die feit nou betreur word dat die wetswysiging wat die verkiesing van onverbonde kandidate moontlik sal maak ná amper drie jaar steeds nie op die wetboek is nie.
Die voorstanders van hierdie wysiging en diegene wat die saak deur die konstitusionele hof gedryf het, gaan nog hul drif berou. Hul siening dat meer onafhanklike kandidate ons demokrasie sal verbreed, is gebaseer op ’n geromantiseerde idee van die demokrasie as ’n markplein van idees – dit verloor heeltemal sig van die nare werklikheid van Suid-Afrika se eiesoortige demokratiese stelsel. Niks illustreer dit beter as die chaotiese manier waarop koalisiepolitiek in Gauteng se metro’s bedryf word nie.