Die reusesteun vir Donald Trump het baie mense geskok en verbaas. Hoe kan so ’n voor die hand liggende nar en narcis sulke groot steun onder kiesers hê?
Die antwoord, een wat nie dikwels deur nie-Amerikaners begryp word nie, is dat Trump die golf ry van nie een nie, maar twee geweldig magtige populistiese bewegings. Die eerste is die gevolg van die ineenstorting van goed betaalde loopbaangeleenthede vir die werkersklas sedert die middel van die vorige eeu. In die 1950’s kon motor- en staalwerkers (en baie ander in soortgelyke poste) genoeg verdien om ’n middelklasbestaan te handhaaf en hul kinders universiteit toe te stuur en sodoende opwaartse sosiale mobiliteit vir die volgende generasie verseker. Hulle was die perfekte illustrasie van die Amerikaanse Droom, hulle het dit beleef en gebaai in die son daarvan – die uitverkorenes van Kanaän.
Maar vanaf die 1970’s is dit alles geleidelik van hulle afgeneem en vir baie sulke mense het hul lone vir die res van hul lewe op 1973-vlakke bly sit terwyl talle ander hamburgerpatties braai vir ’n derde van hul ou salaristjek. Enige hoop op opwaartse sosiale mobiliteit het verdwyn namate universiteitsgeld die hoogte in geskiet het.