Een van my professors het dikwels aan die begin van sy lesings gevra dat ons tog nie moet slaap terwyl hy praat nie, aangesien hy net in sy eie slaap kon praat en nie in iemand ander s’n nie.
Gelukkig was hy ’n uitstekende dosent en was ons wawyd wakker wanneer ons die wêreld van die Afrikaanse variasietaalkunde verken het. Saam het ons die uitsprake, woord- en sinsvormings en sêgoed van die dialekte van Afrikaans ontdek. Hierdie lesings het my laat besef dat die omvang van Afrikaans veel wyer en dieper strek as die standaardvariant wat ons op skool moes leer. Sodoende kon ek nie net tuis in Afrikaans voel nie, maar was ek ook trots op my eie Afrikaans.
Jare later probeer ek ook om nie my studente aan die slaap te praat nie. In elke lesing gebruik ons die teorie van fonologie, morfologie en sintaksis om die variasie in Afrikaans te verduidelik en om beter te verstaan hoekom verskillende mense dieselfde taal op verskillende maniere praat. So word hulle in die bestudering van die fonologie nie net bewus van die prosesse van die vorming van klanke en klankpatrone nie, maar hulle verstaan ook dat uitspraakverskynsels ’n aanduiding is van die dialektiese verskeidenheid in Afrikaans.