In sy boek On Consolation: Finding Solace in Dark Times – in die hoofstuk “The Consolations of Witness” – verwys Michael Ignatieff na ’n oomblik in 1938 in Leningrad. ’n Lang ry vroue het in die koue buitekant die Kresti-tronk gestaan waar hul mans of kinders aangehou is nadat hulle verdwyn het. Die meeste van die tyd het hulle net in stilte gestaan, onseker of hulle enige iemand kan vertrou. Maar op hierdie dag het een wel vir die vrou langs haar gefluister: “Kan jy verwoord wat hier gebeur?” Waarop die ander vrou geantwoord het: “Ek kan.” Hierop het iets soos ’n glimlag op die eerste vrou se gesig merkbaar geword.
Dié vrou was onbewus daarvan dat sy haar vraag aan die Russiese digter Anna Achmatowa gestel het. Achmatowa het later die herinnering aan hierdie insident deel van haar “Requiem” gemaak, ’n gedig-siklus waarin sy die slagoffers onder Stalin se bewind herdenk. Daarin noem sy dat sy hulle graag by die naam sou wou noem, maar dat die naamlys gekonfiskeer is en nêrens te vinde is nie. Tog, vervolg sy: “I have woven you this wide shroud out of humble words / I overheard you use. Everywhere, forever and always, / I will never forget one single thing.”
Die filosoof Isaiah Berlin – wat bekend was met Achmatowa se werk – was in 1945 die eerste besoeker uit die Weste aan haar, en hy vertel hoe sy in ’n eenvoudige kamer uit haar “Requiem” aan hom voorgelees het, onder meer die woorde: “This woman is not well, / This woman is all alone / Husband in the grave, son jailed, / Please offer a prayer for me.”