Een van die bes bewaarde geheime van geloof is vrygewigheid. Oor en oor lig die Bybel vrygewigheid uit as een van die pilare van ons geloof. Om te deel uit dit wat ons op ons naam het, is nooit opsioneel nie. Vrygewigheid gebeur heeltyds. Daarom roep Levitikus 19 God se volk op tot aanhoudende dade van ontferming teenoor hul volksgenote, asook teenoor vreemdelinge.
Daarom herinner Handelinge 2 en 4 ons ook aan die heeltydse vrygewigheid van die Jerusalem-kerk. Hulle het hul kos en besittings gedurig met mekaar gedeel.
Vrygewigheid is ’n leefwyse. Dit gaan egter nie net oor die weggee van geld en lewensmiddele nie; dit gaan ook oor die deel van ons tyd, gawes en talente met ander. Om vrygewig te wees, is om vry te wees van die verslawing aan geld en besittings. Nee, dit beteken nie ons mag nie ook ’n paar dinge besit nie, maar dit beteken ons laat ander mense ook deel in dit wat ons op ons naam het. Só weerspieël ons iets van die eindelose vrygewigheid van die Here. – Stephan Joubert