NP-beleid nou in 3de era, sê Premier: Die derde era in die uitvoering van die beleid van afsonderlike ontwikkeling het nou aangebreek en elke konsekwensie wat daaruit vloei, moet vierkantig in die oë gesien word, het die Eerste Minister, mnr. B.J. Vorster, Saterdag op Kroonstad gesê. “Dit is die taak van die Nasionale Party in die volgende dekade, en op daardie pad sal ek u lei,” het die Premier gesê.
Premier verwerp nuwe bedeling: Die idee van ’n sogenaamde nuwe bedeling of nuwe dimensies binne die Suid-Afrikaanse politiek – wat sal afstuur op ’n hersiening van die bestaande politieke bedeling – is heeltemal verwerp deur die Eerste Minister, mnr. B.J. Vorster.
Drie lewend uit Piper se wrak: ’n Ligte vliegtuig het gisteroggend op die vliegveld Fisantekraal uitgebrand nadat dit nie kon opstyg nie en teen bome aan die onderkant van die stygbaan gebots het. Die drie insittendes van die Piper Cherokee 140 het ongedeerd daarvan afgekom.