Regering besluit rand hou sy waarde: Die bestaande pari-waarde van die rand in terme van goud word gehandhaaf, het mnr. N. Diederichs, minister van finansies, gisteraand aangekondig. As die swewing van die geldeenhede van die E.E.G.-lande egter lei tot té groot devaluasies of opwaartse revaluasies, sal Suid-Afrika sy posisie heroorweeg.
Pa van twee sterf ná meswond: ’n Jong blanke vader van twee kinders is in die naweek noodlottig beseer deurdat hy in die sy gesteek is met ’n mes waarmee hy kort tevore nog brood gesny het. Sy vrou het glo per ongeluk aan hom gestamp terwyl hy die mes in sy hand gehad het. Hy het beswyk weens bloedverlies kort nadat hy in die hospitaal opgeneem is.
Ikeys in Gugulethu gevang: Nege jong blankes, onder wie sewe meisies en twee mans, van wie die meeste studente van die Universiteit van Kaapstad, is gister deur die polisie in Gugulethu in hegtenis geneem. Hulle is daarvan aangekla dat hulle ’n beheerde Bantoegebied sonder ’n permit binnegekom het.