Wits-rektor oor vuil blad na Kaap: Die Rektor van die Universiteit van die Witwatersrand, dr. G. R. Bozzoli, is deur die regering gevra om na die Kaap te kom oor ’n vuil studenteblad wat by sy universiteit verskyn het. Die blad is die jongste uitgawe van Wits Student, wat ’n gruwelike smeeraanval op die Eerste Minister bevat. Die blad is gister tot ongewenste leesstof verklaar . . . Die kritiek teen die blad is veral gemik teen die voorblad van die blad, waarop ’n seuntjie ’n latrinebak kyk en vra: “Verskoon my, is u die Eerste Minister?”
Staak Intervarsity, sê SR: Opdrag is gister in ’n mosie deur die Studenteraad van die Universiteit van Kaapstad aan sy rugbyklub gegee om alle reëlings te staak vir 27 Mei se Intervarsity. Die Studenteraad word deur sy grondwet verplig om gehoor te gee aan die uitslag van die referendum wat pas op kampus gehou is.
Vrymesselaars vier 200 jaar in Kaapstad: Meer as duisend Vrymesselaars uit Suid-Afrika, Suidwes, Rhodesië en Zambië sal môre in die Stadshuis van Kaapstad bymekaarkom om die tweehonderdjarige bestaan van Vrymesselary in Suid-Afrika te vier . . . Die beweging is op 2 Mei 1772 . . . in Suid-Afrika in die lewe geroep.