Voorbladfoto-byskrif: ’n Man van Port Elizabeth het onlangs ’n huis aan mense verhuur, en die sleutel aan hulle oorhandig nadat al die formaliteite afgehandel is. Pas ’n halfuur later was die voornemende huurders terug. Daar is nie so ’n huis nie, het hulle gesê. Mnr. T.J. Koen, die eienaar, het eers nie veel erg aan die storie gehad nie, maar tog later gaan kyk. En sowaar, sy huis was weg, sommer baie, baie weg. Al wat oor was, was die kaggel in die kombuis en ’n deel van die toilet in die agterplaas. Mnr. Koen sê die huis moes sowat drie weke lank leeg gestaan het nadat die vorige huurders uitgetrek het. Hy weet nie wie die huis weggedra het nie en het die Polisie laat weet, wat die voorval nou ondersoek. Die huis was in Cedarstraat, Fairview.
Kunswerke gekoop: Kunswerke ter waarde van R243 is deur die raad van die Koning George VI-kunsgalery in Londen gekoop. In ’n verslag van die geldsakekomitee word die aankope bevestig. Die kunswerke is “La grande tortue” deur Appel (£80), “What’s That Out in the Water?” deur Richecoeur” (£15), “Flower Piece” deur Millington (£24) en “Pyramid” deur Mesterou (£18).
Pofadder: BEAUFORT-WES. – ’n Baie snaakse ding het gebeur toe ’n pofadder met ’n blikdeksel om sy nek op mnr. I.J.J. van Aarde sr. se plaas, Dassiesfontein, doodgemaak is. Die plaas is 41 km van die dorp af op die Nuveldberge geleë. Die slang is reg voor die deur van die huis met die blikdeksel om sy lyf deur Kleurlingwerkers gekry en is toe doodgemaak. Die slang wat vermoedelik paddas geëet het, het op een of ander onverstaanbare wyse sy kop deur die deksel, waarin ’n gat was, gesteek.