.

Geskiedenis só bewaar

akkreditasie
Gert Coetzee vir oulaas in die Volksblad-redakteurskantoor, 2021, voordat dit vir die skuif na Naln opgepak is.Foto: Aiden Meyer
Gert Coetzee vir oulaas in die Volksblad-redakteurskantoor, 2021, voordat dit vir die skuif na Naln opgepak is.Foto: Aiden Meyer

Wat het ’n houtdeur van seker ’n eeu oud, ’n Vrystaat-rugbywedstryd van 1967 en ’n foto waarop S.P. Barkhuizen (oom Barkie), destydse Vrystaatse atletiekbaas, en Jaco Reinach mekaar omhels ná laasgenoemde se Suid-Afrikaanse rekord van 45.01 s. in die 400 m-wedloop in 1983, met mekaar te doen?

Niks regstreeks nie, maar elk kom met ’n eie storie in die maande wat die “trek” vanuit die Volksblad-gebou in Nelson Mandela­rylaan 79 tussen die daaglikse koerantmakery deur beplan is.

Soos berig is, het Novus Print vroeër die gebouekompleks verkoop. Die nuwe eienaar wil nie sy naam bekend maak nie, maar beoog om die gebou vir kantore en winkels te laat restoureer.

Media24 se spanne in Bloemfontein se nuwe tuiste is op die tweede verdieping in Pres. Reitzstraat 107 in Westdene. Die spanne sluit in Netwerk24 se nuus- en produksiespanne, Volksblad se redaksielede (wat die PDF-koerant op Netwerk24 saamstel) en verkoops- en redaksielede van Sentraal24, wat vyf weeklikse gemeenskapskoerante (Bloemnuus, Express, NoordKaapBulletin, Vrystaat­Kroon en Vista) uitgee.

Buiten dat die nuwe huurkantore kleiner is, was dit die aangewese tyd om vir Volksblad se geskiedkundige materiaal die regte tuiste te kry. Nie alles het noodwendig monetêre waarde nie, maar behoort as deel van die geskiedenis, ook van Afrikaanse joernalistiek en Naspers se oorsprong, bewaar te word.

Verskillende museums en argiewe het van dié gesiedkundige items ontvang. Die redakteursmeubels, toonkaste en geraamde foto’s en koerantvoorblaaie is na die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln), gebundelde koerante sedert 2012 na die Universiteit van die Vrystaat se Instituut vir Eietydse Geskiedenis (Archives for Comtemporary Affairs, oftewel Arca, soos dit nou heet), sportverwante stukke na die Nasionale Museum en enkele stukke rakende die Anglo-Boereoorlog na die Oorlogsmuseum van die Boere­republieke sou gaan.

’n Vraag was wat gaan word van die ou houtvoordeur van Volksblad, met die gekrulde houtsneewerk en die woorde Vox populi vox Dei (die stem van die volk is die stem van God) wat boaan uitgekerf is. Of die deur in 1916 saam met Het Volksblad (vroeër Het Westen, ontstaan in 1904) van Potchefstroom na die Volksblad-gebou in Johnsonstraat (later Voortrekkerstraat) getrek het en of dit eers in Bloemfontein begin gebruik is, is onseker.

Met die herbouing in 1986 is die vooraansig van die gebou ook gemoderniseer en die deur het byna in die slag gebly. Jan Scholtz, hoofredaksielid en ’n meester-houtvakman, het die deur van Birmaanse kiaat “gered”.

Dit is in ’n buitekantoor ingebou.

Dit sou maklik gewees het om die vergete deur in 2021 se trek daar te laat. Vanweë die geskiedkundige waarde is dit met die maatskappy se instemming teen R16 000 uitgehaal. Die deur is nou deel van die Volksblad-versameling wat na Naln toe is.

Arca was die aangewese tuiste vir die gebundelde Volksblaaie, wat ’n magdom inligting bevat, aangesien die vroeëre koerante daar bewaar word.

Met die insae van prof. Francis Petersen, rektor, is die gebundelde Volksblaaie van 2012 tot 2018 ook daarheen getrek. 2019 en 2020 s’n word nou gebundel.

In Volksblad se gedenkbylae in die voorlaaste gedrukte koerant op 7 Augustus is berig oor ons soektog na die foto van “oom Barkie” en Jaco wat mekaar ná sy rekordtyd in die 400 m in die Vrystaatstadion omhels het, maar nie gekry is nie.

Charl van Rooyen, nou van Landbouweekblad, het toe bevestig dat hy die foto in 1983 geneem het toe hy met ’n kamera by die wenpaal gaan rondhang het – soos dit ’n Volksblad-verslaggewer betaam.

Met die ontruiming van Volksblad se instapkluis is ’n geblokte weergawe van dié foto saam met talle ander sportfoto’s in die stof op die heel boonste rak ontdek.

Tientalle sportverwante stukke het behoue gebly. Dit is geskuif na die Nasionale Mu­seum, waar dit nou bewaar word.

Dan oor die redakteurskantoor se meubels van duursame stinkhout en Birmaanse kiaat. Hennie van Deventer, ’n oudredakteur, skryf Jan Scholtz het in 1986 ook “al dié sierade van inheemse houte . . . gerestoureer of laat restoureer. Dit sluit in dr. A.J.R. van Rhijn se massiewe ou lessenaar van Birmaanse kiaat, twee riempiesbanke en twee boekrakke van swarthout asook sesstuks (dalk meer) stinkhoutstoele, ’n hoektafel, ’n outydse boekrak met laaitjies (eikehout, meen hy) en ’n groot leer-swaaistoel”.

Met dank aan Naln is ’n soortgelyke kantoor op sy gebou (in President Brandstraat) se eerste verdieping beskikbaar gestel waarheen die meubels geskuif is – en waar die ou houtvoordeur ’n staanplek kry.

  • Wat saam met ons na die nuwe gebou trek, is die groot skildery deur Danie Marais wat Naspers in 2004 met Volksblad se eeufees aan die koerant geskenk het, ’n versameling van geraamde T.O. Honiball-spotprente (ook ’n Naspers-skenking) en tientalle geraamde voorblaaie, foto’s en prente. Coetzee is Volksblad-redakteur sedert 2015.
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
16.27
-1.9%
Rand - Pond
21.71
-0.0%
Rand - Euro
18.42
+0.1%
Rand - Aus dollar
11.59
+0.0%
Rand - Jen
0.14
+0.2%
Goud
1,792.60
0.0%
Silwer
23.13
0.0%
Palladium
1,751.49
0.0%
Platinum
955.50
0.0%
Brent-ruolie
72.72
-11.6%
Top-40
62,411
-2.6%
Alle aandele
68,615
-2.8%
Hulpbronne 10
64,074
-2.5%
Industriële 25
92,909
-1.3%
Finansiële 15
12,995
-6.8%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos