
“My keel het toegetrek en ek het benoud geraak en my bewussyn verloor.”
So herroep Shireen Laing, ’n 26-jarige ma van Sir Lowry’s Pass wat die skok van haar lewe gekry toe sy ’n oproep kry met die tyding dat haar huis verlede Dinsdag (21 Februarie) afgebrand het.
Laing en haar vier kinders, almal tussen 10 maande en tien jaar oud, het al hul besittings verloor.
Jermaine Carelse, ’n woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, het bevestig die brandweer het teen 09:50 op die brand by die familie se informele struktuur in Stewartstraat gereageer.
“ ’n Informele struktuur en al die inhoud asook persoonlike besittings is in die brand vernietig. Spanne van Sir Lowry’s Pass en ’n reddingsvoertuig van Strand was op die toneel. Niemand is beseer nie, maar vyf mense is dakloos gelaat,” sê Carelse.
Volgens hom is die oorsaak van die brand steeds onbekend.
Laing sê toe sy die oproep kry oor haar huis wat aan die brand is, was sy met een van haar kinders by die hospitaal. “Ek het flou geraak toe ek die nuus ontvang. ’n Vrou het my kom help en sy het my (en my kind) na my ma se huis geneem,” vertel sy.
Sy probeer tans sterk wees vir haar gesin wat alles in die brand verloor het.
“Ons bly tans by my ma, maar ek is bekommerd oor ’n plek waar ons permanent kan bly. Ek wil my huis herbou, maar om dit te doen het ek boumateriaal soos hout en sinkplate, vensters en deure nodig.”
’n Organisasie sonder winsbejag, Humble Beginnings, het kort ná die brand na die gesin uitgereik en beddegoed, klere, speelgoed, tasse vir die kinders, eetgerei, kos en babakos geskenk.
Gary Guppy Fraser, die stigter en voorsitter van Humble Beginnings, verduidelik die organisasie is in 2021 juis op die been gebring om rampslagoffers te help wat al hul besittings verloor het – soos die Laing-gesin.. In ’n onverwante brand wat op Kersdag (25 Desember) in Brewerystraat in Strand uitgebreek het, is altesaam 13 mense haweloos gelaat nadat vier informele wonings in puin gelê is. Die brand het omstreeks 03:30 die oggend uitgebreek en die inwoners onkant betrap (“In sak en as op Kersdag”, Distrikspos, 11 Januarie).
George Watkins, die opsigter, sê die inwoners wat hul huise moes herbou, kry steeds baie swaar. “Ons is tans op soek na naaimasjiene wat die mense sal help om ’n inkomste te genereer. As enigiemand ’n naaimasjien of naaimasjiene het om te skenk, kan hulle my by 084 338 5577 bel,” vra Watkins.