’n Plaaslike eiendomsagent het dit haar missie gemaak om ’n plaaslike kinderhuis te help om ’n perseel van hul eie te kry.
Die Beacon of Hope-kinderhuis, wat tans op ’n perseel in Gustrouw bedryf word, het onlangs ’n skenking gekry waarmee hy ’n perseel van sy eie wil aanskaf.
Engela Murray, ’n eiendomsagent van Coastland Properties in Strand, het onlangs met ’n trekkery met Beacon of Hope te doen gekry, en toe mense by die kinderhuis hoor sy is ’n eiendomsagent, het hulle haar gevra om hulle na ’n oop erf of goedkoop perseel in ’n veilige deel van Strand te help soek.
“Hulle het onlangs ’n R500 000-skenking ontvang om in behuising te belê. Dit klink onmoontlik, maar toe hulle ’n derde keer vra of ek dalk al iets gekry het, het ek besef ons moet kyk of ons kan help,” sê Murray.
Virgil en Renay Brown van die Beacon of Hope-kinderhuis sê hulle is op soek na ’n erf of perseel wat goedkoop genoeg is dat hulle nog geld oor het om dit op te knap of op die perseel te bou.
Murray, wat hulle sê amper ’n engel van Bo is, sê sy sal van haar kant af ’n bouer kan kry wat teen ’n verlaagde koste sal kan bou, en sy ken ’n prokureur wat moontlik met die oordrag van die eiendom sal kan help.
“My idee is om vir hulle ’n goedkoop erf te probeer kry en hulle sal dit moet koop, maar ons sal eers met die eienaar moet onderhandel vir ’n prys wat ’n mens amper as onmoontlik sal moet beskou,” vertel sy.
Virgil, wat baie dankbaar is vir die hulp, vra die publiek (indien hulle kan) om ook by te dra, en indien hulle weet van enige erf of perseel wat teen ’n winskoop te koop is, hulle te laat weet sodat hulle verder saam met Murray daaraan kan werk om hul droom om ’n perseel van hul eie te hê, te vervul.
“Ons huur tans, maar ons wil die skenking gebruik om vir die 17 kinders by ons kinderhuis ’n perseel in ’n veilige omgewing te koop sodat ons almal saam kan groei. Ons was voor Oktober nog in Broadlandspark, maar moes weens al die skietery en ander misdaad na ons huidige perseel verskuif,” voeg Virgil by.
Sy vrou, Renay, sê hulle werk met meer as net die 17 kinders, want hulle werk ook met verskeie kinders in die gemeenskap ook, en sy help hulle met hul huiswerk en sy en haar man dien as veiligheidsouers vir die kinders.
“Ons is gemeenskapswerkers en ons werk nou saam met die gemeenskap asook met jongelinge wat skool vroeg verlaat het,” vertel sy.
- Vir meer inligting, of as jy as die eienaar van ’n sakeonderneming die kinderhuis met ’n erf of perseel binne hul begroting kan help, bel gerus vir Virgil Brown van Beacon of Hope by 076 415 2530.