.

‘Oor en weer’ gaan jou bekoor

akkreditasie

Waar is jy gebore en waar het jy grootgeword? Ek is in Parys in die Vrystaat gebore en het in Kempton Park, Gauteng, grootgeword. Parys is een van my gunstelingdorpe in die land. Ons is daar weg toe ek omtrent vyf jaar oud was, maar ons het nog baie gereeld by my ouma en oupa gaan kuier. Daardie tyd kon ons nog in die strate rondhardloop en oor en weer by maats se huise kuier. Ons het gespeel tot ons in die aande stokflou was, en speel is soms ook mos maar stories uitdink; of dit was, soos wat ons dit gedoen het.

Wat onthou jy van jou kinderjare? Ek het maar altyd stories opgemaak en op hoërskool al verhale en gedigte geskryf. Ek het ook vreeslik baie as kind gelees. Ek was een van daardie kinders wat die storieboek in my handboek in die klas weggesteek het en eerder gelees het. Ek dink die onderwysers het geweet en maar gemaak asof hulle niks sien nie. Ek het ook al in vyf lande gewoon – die Verenigde Arabiese Emirate, Singapoer, Maleisië, Ethiopië en Nederland. Ek is baie mal oor reis, en ek kook graag kos van verskillende lande.

Waar het jy skoolgegaan? Ek was ’n leerder aan die Hoërskool Kempton Park en het in 1987 gematrikuleer.

Wat doen jy vir ’n lewe? Ek gee aanlyn Engels-klasse vir studente oor die wêreld heen. Ek en Trisa, my medeskrywer, het ook in die grendeltyd met aanlyn boekgesprekke begin. Ons het ’n gewilde Youtube-kanaal en Faceboek-blad met die naam Boekemakranka, waar ons een keer per week met skrywers oor nuwe boeke praat. Daar is mense wat elke week getrou kom kyk. Ons het al onderhoude met baie bekende Suid-Afrikaanse skrywers gevoer, onder andere Anton Goosen, Chanette Paul, Marita van der Vyfer, Fanie Viljoen en vele ander. Ons was die eerstes in SA om boeke aanlyn bekend te stel, en ons het al byna 60 gesprekke met skrywers gefasiliteer. Mense kan gaan kyk by www.boekemakranka.co.za.

Wanneer het jy begin skryf en waar het jou liefde vir skryf ontstaan? Op skool al. Ek het maar nog altyd aan iets geskryf. Ek dink dit kom maar van ’n lewenslange liefde vir boeke en stories.

Watter genre skryf jy meestal? Ek hou nogal daarvan om goed te skryf wat ’n werklike storie vertel, oor mense wat regtig sou kon bestaan. Oor en weer word geklassifiseer as ’n verhoudingsroman, en dit is beslis my gunsteling-genre. Ek hou van hoe mense met ander mense in hul wêreld omgaan. Dis hoe ons ons eie stories maak.

Hoe sal jy, in drie woorde, jouself as skrywer beskryf? Vreesloos (oor kontroversiële onderwerpe); oopkop en realisties.

Hoe het die idee vir Oor en weerontstaan?Ek en Trisa is goeie vriende. Ek was een Sater­dagoggend hartseer oor ’n ander vriendskap wat verander het en ek en Trisa het daaroor gesels. Ons besluit toe sommer om ’n storie te skryf (want skryf laat mens beter voel), waar ek ’n paragraaf skryf en dan sy en dan weer ek. Kort voor lank het ons besef, dié kan iewers heen gaan. Toe hou ons maar net aan.

Waaroor gaan die boek? Die boek gaan oor twee baie uiteenlopende vroue wat in ’n kompleks bly. Manda is stil, skaam en teruggetrokke en op haar gelukkigste by die huis saam met haar kat, Jasmyn. Dan trek Billie met haar hond, Tequila, oorkant die pad in. Billie, of eintlik Belinda, is energiek, pas geskei en dolverlief op ’n Irakse vrou, maar alles is baie gekompliseerd. Manda sukkel ook met trauma uit haar verlede. Die twee ontmoet danksy die kat en die hond wat ’n meningsverskil het, en hul lewens begin verweefd raak. Hulle raak dan goeie vriende wat mekaar deur goeie en slegte dinge bystaan en dra – soms letterlik. Dis ’n storie oor vriendskap en hoe ’n mens vriende kan wees met iemand heel anders as jy, deur mekaar te aanvaar vir wie ’n mens is.

Wanneer het julle daaraan begin werk en wanneer was julle kant en klaar? Ons het in Mei 2019 begin. Dit het twee maande gevat. Daarna het die proses begin om dit deur die uitgewers te kry – dit kan soms baie lank vat! Lapa-uitgewers het toe besluit om die boek te aanvaar en Madri Victor het ons gehelp met manuskripontwikkeling. In die grendeltyd het ons toe die manuskrip verwerk tot die boek wat dit nou is.

Hoe het julle aan die titel gekom? Manda en Billie, die hoofkarakters, kuier gereeld oor en weer, maar soms maak hulle ook dieselfde foute oor en weer in hul lewe en moet dan die gevolge hanteer.

Met watter boodskap wil julle deur middel van die boek die lesers laat? Dat mense mekaar moet aanvaar. Moenie mense veroordeel nie. Ons het elkeen ons eie storie, en jy weet nie regtig wat in iemand anders se lewe aangaan tot die persoon jou inlaat nie. Soms verstaan jy mense beter wanneer jy hul stories ken en verstaan waarom hulle die keuses maak wat hulle maak.

Waarom moet mense die boek lees? Mense sê vir ons dat die karakters so eg is, dit voel asof dit hul eie bure is, asof hulle hul wil bel en vra hoe dit gaan. Daar is ook temas in die boek wat nogal kontroversieel kan wees, so enigiemand wat ander mense en hul besluite beter wil verstaan, kan dit lees. ’n Mens kan die boek vir ontspanning lees, of jy kan dieper kyk . . .

Hoe voel dit om jou eie gepubliseerde werk in jou hande te hou? Dis die heerlikste gevoel! Ek stap soms in boekwinkels in net om haar op die rak te sien en met my vingers oor die mat gevoel van die buiteblad te streel. Party skrywers sê dit bly so lekker met elke boek wat hulle skryf.

Het jy enige raad vir jong skrywers? Skryf net. Moenie ophou of opgee nie. Moet jou ook nie te veel steur aan wat jy dink die mense wil lees nie. Skryf verhale wat tot jou spreek en skryf die karakters wat by jou aanklop en aandring om in ’n boek te wees.

Werk jy aan enige nuwe werke? Ek werk tans aan ’n ander boek wat Lapa-uitgewers my gevra het om te skryf. Dis ’n heel ander genre en ’n nuwe ondervinding vir my, so ek is opge­wonde daaroor. Ek is nou besig met die finale afronding daarvan. Die boek sal later vanjaar uitkom, dan kan ek meer daaroor sê. Ek en Trisa skryf ook saam aan nog ’n storie wat ons in die grendeltyd begin het.

Wat is volgende voor Analize Viljoen? Hopelik nog baie boeke, baie geregte om te kook vir die mense in my lewe – veral my 23-jarige seun – en om op die strand te stap met my honde. Ook nog baie Boekemakranka-aanlyn-boekgesprekke met skrywers.

Waar is die boek beskikbaar? By al die PNA-winkels en Exclusive Books. Jy kan haar (ja, dis ’n sy!) ook aanlyn by Graffiti Books and Stationery bestel of by Lapa-uitgewers. Die e-boek is ook by Amazon beskikbaar.

Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
14.51
+1.7%
Rand - Pond
19.88
-0.0%
Rand - Euro
16.83
-0.0%
Rand - Aus dollar
10.76
+0.0%
Rand - Jen
0.13
-0.0%
Goud
1,767.60
0.0%
Silwer
23.31
0.0%
Palladium
2,075.53
0.0%
Platinum
1,059.00
0.0%
Brent-ruolie
84.86
+1.0%
Top-40
60,494
+0.2%
Alle aandele
67,029
+0.3%
Hulpbronne 10
64,347
-0.1%
Industriële 25
84,819
+0.7%
Finansiële 15
13,961
-0.3%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy
Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos