
Die plaaslike nie-regeringsorganisasie (NGO) Bergzicht Training & Development, het sy 31ste bestaansjaar op 6 Maart gevier.
Die verjaarsdagviering is by die organisasie se opleidingskampus in Stellenbosch gehou, met Renske Minnaar, die uitvoerende hoof, en dr. Hannes Koornhof, ’n direkteur, wat die viering geopen het. Koornhof het Bergzicht geprys vir die proaktiewe veerkragtigheid van die organisasie, veral tydens die uitdagings van die Covid-19-pandemie.
Hy het die belangrikheid van selfontwikkeling vir studente beklemtoon en die stigter, Cecile Kotzé, wat ook die geleentheid bygewoon het, vir haar visie en deurlopende ondersteuning geprys.
Kotzé en haar medestigter, Minnie van der Merwe, het Bergzicht gestig in reaksie op die armoede en werkloosheid wat hulle in die minderbevoorregte gemeenskappe van Stellenbosch gesien het.
“Toe ons die eerste keer op hierdie einste Bergzichtkampus in 1992 begin het, het net 21 mense opgedaag.
“Maar ons het vinnig die dringende behoefte aan vaardigheidsopleiding en aanvraag na werksgeleenthede in Stellenbosch gesien,” het Kotzé gesê terwyl sy oor die organisasie se geskiedenis uitgebrei het.
Met ondersteuning van vrywilligers het Bergzicht vaardigheidsopleiding in huisbestuur, verswaktesorg, educare en spysenieringsorg begin aanbied, sowel as ’n basiese geletterdheidsprogram.
“Ons missie tóé en steeds is om werklose individue van gesertifiseerde bevoegdhede en ondersteuning te voorsien om hulle in staat te stel om werk en selfstandige geleenthede te vind om ’n volhoubare loopbaan te bou,” verduidelik Kotzé.
Bergzicht het oor die jare heen meer as 13 000 studente opgelei en minstens 76% van die gekwalifiseerde kandidate in diens geplaas, wat langtermynsukses en volhoubare loopbane moontlik maak.
Vandag vorm Kotzé se visie steeds die grondslag van Bergzicht se werk en is dit een van die redes waarom die organisasie steeds floreer.
“Om die groei en Bergzicht se sukses 31 jaar later te sien, is so wonderlik en inspirerend,” sê sy.
Huidige studente wat die viering bygewoon het, het hul gedagtes oor die impak van die opleiding op hul lewe gedeel.
Given Nqampi van Khayamandi het sy dankbaarheid uitgespreek en gesê: “Ek is so bly en sien die vordering onder ons. Ek wil vir mev. Kotzé dankie sê en wees verseker dat ons jou trots sal maak.”
Mfundo Gxagxisa, ook van Khayamandi, het gesê: “Ek is al ’n maand hier, en ek voel reeds goed en geïnspireer. Die iPower-program was wonderlik.”
Sedert die opening van sy deure in 1992 is Bergzicht daaraan toegewy om die lewe van minderbevoorregte en werklose individue uit gemeenskappe in die Wynlande te verander deur beroepsvaardigheidsontwikkeling, plasingsondersteuning en ontwikkeling.
Bergzicht sien daarna uit om sy missie om vaardighede te ontwikkel en individue te help om volhoubare loopbane te bou voort te sit.