’n Dwelmhandelaar is verlede Donderdag (16 Februarie) op heter daad betrap toe hy naby die Khayamandi-taxistaanplek met dwelms handel gedryf het.
Die verdagte is danksy die kringtelevisiestelsel van die Stellenbosch-munisipaliteit se beheerkamer in hegtenis geneem.
“Die beheerkamer het die omgewing deur middel van die kringtelevisiestelsel gemonitor en agtergekom dat onwettige aktiwiteite plaasvind,” sê Stuart Grobbelaar, die munisipale woordvoerder.
Grobbelaar sê die munisipale wetstoepassers en die Stellenbosch-polisie is onmiddellik na die terrein ontbied, waar die verdagte op heter daad betrap is met ’n groot hoeveelheid tik in sy besit.
Die verdagte het sedertdien in die Stellenbosch-landdroshof op aanklag van dwelmhandel verskyn.
Grobbelaar het die beheerkamer-personeel geprys en gesê die beheerkamer gebruik regstreekse uitsendings van talle kringtelevisiekameras en 67 nommerplaatherkenning-kameras (LPR) wat op verskeie terreine oor die hele munisipale gebied geplaas is.
“Hierdie kameras sal in die komende maande en jare uitgebrei word. Die geriewe bevat ook ’n gespesialiseerde oorlogskamer met die nuutste inligting- en kommunikasietegnologie-toerusting om ons reaksies tydens krisistye te vergemaklik. Daar is tans 12 beheerkameroperateurs by die beheerkamer in diens, wat in skofte van drie mense op ’n keer werk om 24 uur-dekking sewe dae per week te verseker,” het hy bygevoeg.
Grobbelaar sê lede van die publiek kan die beheerkamer kontak wanneer hulle enige bystand benodig. “Hulle is 24/7 beskikbaar by 021 808 8999 of jy kan enige probleem via die toegewyde WhatsApp-lyn by 079 622 4722 aanmeld.”