.
Deel

Pa se dood nog ’n raaisel

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Peter October (55) se liggaam is onder ’n doringboom op ’n plaas net buite Robertson gekry.
Peter October (55) se liggaam is onder ’n doringboom op ’n plaas net buite Robertson gekry.

Die dogter van ’n bejaarde man van Robertson is erg getraumatiseer nadat haar pa se liggaam onlangs onder ’n doringboom op ’n plaas net buite die dorp gevind is en bespiegeling hom vir ’n dief uitmaak.

Peter October (55) het Dinsdag 21 Februarie sy lewensmaat se huis in Droëheuwel verlaat om by familie en vriende op die plaas Keurkloof net buite die dorp te gaan kuier. Toe hy egter ’n paar dae later nog nie terugkeer het huis toe nie, het die rooi ligte begin flikker.

“Sy meisie het ons laat weet hy is nie terug nie en ons het erg bekommerd begin raak. My seun, wat baie lief is vir sy oupa, het Donderdag 23 Februarie op sy fiets geklim en dadelik na die hospitaal gery om uit te vind of hy nie dalk daar is nie. ’n Hele ruk later het my seun en sy vriend saam met polisiebeamptes by ons huis opgedaag en ons het hom as vermis aangemeld en ’n beskrywing gegee van wat hy aangehad het,” vertel Peter se dogter, Elrené October, aan Gazette.

Die gesin het Vrydag besluit om self te gaan onder­soek instel en met hul honde na hul pa en oupa gaan soek.

“Ons het oor die koppie gestap en by almal wat ons ken, gaan hoor of hy nie daar was nie. My ouma het op die plaas gewoon en ons ken omtrent almal daar. Niemand het hom gesien nie. Die aand toe ons teruggaan huis toe, het iemand ons voorgekeer en gesê hulle is jammer vir ons verlies. Ons was baie geskok omdat ons self nog niks geweet het nie.”

Elrené verduidelik die persoon het hulle ingelig dat ’n lyk op die plaas gekry is. Sy en haar familie het toe ’n polisiebakkie voorgekeer om te vra wat aangaan, maar kon net uitvind dat ’n liggaam gekry is en dat dit met die beskrywing van haar pa ooreenstem.

“Hulle het ons ingelig dat die man se identiteit nog onbekend is en ons sal moet wag. Ons is toe eers Maandag meegedeel dat dit my pa is, maar ons het geweet. Dit is net vir ons bitter hartseer,” verduidelik Elrené.

Die polisie in die Wes-Kaap het October se dood bevestig en bygevoeg dat ’n geregtelike doodsondersoek geopen is.

In ’n bekende poniekoerant is beweer Peter was glo op pad om druiwe te gaan steel op die plaas waar hy dood gevind is. Die familie meen egter dis ’n wolhaarstorie en sê dit het hulle baie ontstel.

“My pa was baie dinge, maar ’n dief was hy gewis nie. Hy was nog net goed vir mense, en al het hy min gehad, sou hy altyd van sy laaste vir ander gee. Dit maak ons baie hartseer om sulke leuens te moet lees. Dit is nie wie hy was nie,” voeg Elrené by.

Billy Claasen, voorsitter van die landelike en plaaswerker-ontwikkelingsorganisasie, het in ’n amptelike skrywe ook die gerugte van diefstal in die kiem gesmoor.

“Ons doen ’n beroep op die polisie en ons howe om hierdie sake deeglik te ondersoek. Ons ondervind talle sulke probleme reg oor die provinsie en al het iemand vrugte gesteel, is dit geensins ’n motief of rede om daardie persoon te vermoor nie.

“In hierdie geval was hy nie ’n druiwedief nie, maar ons mense kort beskerming en die polisie gaan hul deel moet doen,” meen Claasen.

In dié stadium vermoed die familie dat Peter vermoor is.

“Sy ribbes was gebreek en het tot in sy long gesteek. Sy voorkop en ken was ook erg beseer en sy lyf was vol kneusmerke.

“Ons weet nie wie enigiets aan hom sou wou doen nie. Ons probeer nog om alles te verwerk.”

Sy voeg by dat talle mense haar pa sal onthou vir die mens wat hy was.

“Hy was ’n mense-mens wat altyd ’n grappie gehad het en altyd gereed was om ander te help. Ons sal hom baie mis. Hy het dit nie verdien nie.”

Peter sal eerskomende Saterdag vanuit sy huis in Robertson begrawe word.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.28
+1.4%
Rand - Pond
22.43
+1.0%
Rand - Euro
19.85
+0.5%
Rand - Aus dollar
12.22
+1.2%
Rand - Jen
0.14
+0.5%
Platinum
981.98
+1.0%
Palladium
1,444.54
+2.7%
Goud
1,967.98
+1.4%
Silwer
22.93
+2.4%
Brent-ruolie
75.32
+2.0%
Top-40
69,757
+1.4%
Alle aandele
75,243
+1.3%
Hulpbronne 10
65,777
+0.2%
Industriële 25
101,692
+1.8%
Finansiële 15
15,282
+1.4%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos