
Drie mense het Maandag in die hof verskyn op aanklagte dat hulle Vrydag ’n prominente prokureur in Bellville ontvoer het.
Die prokureur, Gerhard de Jongh (63), is Saterdag in Klawer opgespoor.
Die drie verdagtes, Gareth Webber, Charmaine Schreuder en Amore Schreuder, het vlugtig in die hof verskyn. Hul saak is tot Vrydag uitgestel sodat bykomende inligting vir hul borgtogaansoek vasgestel kan word. Hulle bly tot dan in aanhouding.
De Jongh werk vir die firma Smith & De Jongh Prokureurs, wat in Voortrekkerweg naby die Bellville-landdroshof geleë is.
Hy is Vrydag deur sy vrou as vermis aangemeld nadat hy nie ná werk by die huis opgedaag het nie. Kennisse en familielede het gou op sosiale media inligting oor hom versprei in ’n poging om hom te vind.
AO Joseph Swartbooi, provinsiale polisiewoordvoerder sê speurders van die Bellville-polisiekantoor het dadelik weens “vreemde omstandighede rondom die insident” aan die werk gespring om hom op te spoor.
erg omgekrap
Die speurders het eers met die prokureur se vennoot en sekretaresse gepraat voordat hulle na sy kantoor is.
“Die kantoor was erg omgekrap en sekere items is ook vermis. Hulle het ’n lêer op sy lessenaar gekry wat noodsaaklik vir die ondersoek was omdat dit leidrade bevat het om op te volg.”
Die polisie is eers na Yalestraat in Belhar om ’n vrou te besoek wat die vorige dag by De Jongh was. Sy was egter nie tuis nie en haar man kon nie sê waar sy was nie.
“Ooggetuies wat ondervra is, het die vrou op die misdaadtoneel geplaas en het bevestig dat sy ’n wit motor bestuur het, wat die speurders geglo het die prokureur s’n was. In die motor was ’n onbekende man en nog twee insittendes,” sê hy.
Die leidrade in die lêer het die speurders na ’n adres in Klawer gelei.
“Hulle het die kar by die huis opgespoor en die huis binnegegaan, waar hulle die vermiste man opgespoor het, wat getraumatiseerd was.”
Buiten die aanklag van ontvoering, staan die drie ook tereg op aanklag van roof met verswarende omstandighede, het Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gesê.
Die Burger, wat De Jongh eerste as die prokureur geïdentifiseer het, berig die twee vroulike verdagtes is ma en dogter en dat die man die dogter se kêrel is.