
Dit was ’n mooi gesig om te sien hoe wetstoepassers van die Overstrand-munisipaliteit, spanne van brand- en reddingsdienste en die polisie trots op aandag staan toe die nuwe plan om misdaad in die hele Overstrand te bekamp, van stapel gestuur is.
Die Overstrand-munisipaliteit het op 21 April Operasie Lungisa aan die inwoners bekendgestel.
Operasie Lungisa, ’n Xhosa-woord wat beteken “ons kom vir julle”, is daargestel om wetstoepassing af te dwing as inwoners nie die landswette nakom nie.
Dié optrede, die geesteskind van Lindile Ntsabo, die onderburgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, is op sy verjaardag aan die gemeenskap bekendgestel.
“Ek het van Operasie Dudula in Gauteng te hore gekom, waar inwoners onwettige immigrante beskuldig het dat hulle nie net hul werk afneem nie, maar ook deel is van misdaad. Ons kan nie die gemeenskap toelaat om eie reg te gebruik nie, maar ons moet ook daartoe bydra dat ons ’n veilige omgewing vir ons inwoners skep,” het hy gesê.
Hy het dit wel duidelik gemaak dat immigrante in die Overstrand verwelkom word, maar bygevoeg hulle moet, net soos die res van die inwoners, reg en orde handhaaf.
Hy het ook gesê verskeie wetstoepassers sal hande vat om xenofobie en ander misdrywe rakende sakelisensies, geldige werkpermitte, handel van goedere, onwettige sjebiens en ander misdrywe, hok te slaan. – Vervolg op bladsy 2