
Dit was rugby uit die boonste rakke, en die spanne van die Overberg het gewys hierdie jaar se ligawedstryde gaan nie net kliphard wees nie, maar gaan ook ’n paar verrassings oplewer.
Saterdag was die pawiljoene op die Caledon-sportterrein volgepak toe Nissen Holdings die Overberg-beker aangebied het.
Die voormalige Springbok-rugbyafrigter Peter de Villiers was ook Saterdag langs die veld om na die room van klubrugby in die Overberg te kyk. Volgens omstanders was hy baie beïndruk met die gehalterugby wat die spelers gelewer het.
De Villiers het Vrydagaand ’n praatjie by die Caledon-casino gelewer oor afrigting en ook ’n paar staaltjies gedeel oor sy tyd op die veld.
Die rugbyspelers het dit van vroeg af al op die veld uitgespook.
Die spanne van Botrivier en Hawston se Skrik vir Niks het eerste gespeel.
Botrivier het ’n groot verrassing opgelewer toe hy gelykop teen verlede jaar se wenners van die Overberg-Grootuitdaagbeker (Skrik vir Niks) gespeel het. Dit was amper ’n wen vir Botla Fire toe hy in die doodsnikke van die wedstryd die gelykmaker aangeteken het, maar ongelukkig was die doelskop mis. Ondersteuners was ontevrede nadat die twee spanne gelykop gespeel het maar die organiseerders het beslis die span wat die hoogste op die punteleer geëindig het, sou na die eindstryd deurdring.
Die Safcol-span van Grabouw het in die tweede halfeindstryd met die Bredasdorp-Rangers afgereken en in die eindstryd was dit Safcol en Hawston Skrik vir Niks wat sake uitgespook het.
Die eindstryd was van die begin af baie taai met Skrik vir Niks wat 9-3 voorgeloop het. Safcol was pal op die aanval en is ná verskeie fases met ’n drie beloon. Hawston kon net daarin slaag om drie strafskoppe oor die pale te klits.
Safcol, die verdedigende kampioen, is ná 35 minute aan ’n kant as die Overberg-vriendskaplike kampioen gekroon en het nie net met die beker huis toe gegaan nie, maar ook R50 000 se prysgeld.
In die vriendskaplike wedstryd tussen Sea Hawks van Arniston en Genadendal het Sea Hawks 8-5 gewen.