.
Deel

De Wet skryf nuwe grilgryper-boek tydens Covid-19

akkreditasie

Vertel vir ons waaroor gaan die boek?

Die geheim van die spookwerf gaan oor Vanessa, die dogter van ’n biljoenêr, wie se lewe uitmekaar begin val kort nadat sy en haar pa ’n grusame motorongeluk oorleef. Eerstens is dit nou haar grootste vrees om in enige voertuig te moet ry, maar dan verkul haar pa se vennoot hom letterlik uit al hul besittings wat veroorsaak dat hulle op ’n ou grillerige skrootwerf buite die dorp moet gaan woon. Die klomp motorwrakke maak van Vanessa ’n senuweewrak! Hulle nuwe huis is ’n ou bouval en hulle enigste ryding is die insleepwa wat haar pa nou vir sy werk moet gebruik. Vanessa ontmoet vir Wayne, ’n tienerseun wat sy eie motorfiets bou en elke dag na onderdele op die skrootwerf kom soek. Hulle word gou goeie vriende. Maar dan begin ’n ou boemelaar saans by die huis se vensters inloer en gou besef Vanessa die klomp mense wat sy op die skrootwerf sien, is spoke. Om ’n einde aan die nagmerrie te bring, sal Vanessa baie dapper moet wees en die geheim van die spookwerf moet ontrafel. 

Hoe het jy opgekom met die idee/s vir die boek?

Aangesien die Grilgrypers ’n reeks is, probeer ek altyd aan iets vars dink om die protagonis in ’n nuwe omgewing of nuwe omstandighede te plaas. Toe ek en Henk Viljoen van NB-uitgewers verlede Julie tydens ’n boektoer in die Noordwes-provinsie verby ’n skrootwerf gery het, het ek onmiddellik aan die idee vir hierdie boek begin dink. 

Hoe lank het dit geneem om die boek te skryf?

Omdat ek voltyds skoolhou, kan ek net saans en naweke vir kort rukkies op ’n slag skryf. Die eerste weergawe van hierdie storie het my net langer as ’n maand geneem om neer te pen. Maar toe begin die redigering- en herskryfproses. Dit het twee maande geneem om die boek heeltemal klaar te maak.  

Hoe verkoop die res van die Grilgryper-reeks?

Ek is baie dankbaar dat dit goed gaan met die reeks. Tydens skoolbesoeke verkoop ons gewoonlik baie kopieë en die eerste boek in die reeks, Die vloek van Vreesbaai, is reeds in sy tweede druk. 

Vir watter ouderdomsgroep is die boek geskryf?

Die reeks word bemark as boeke vir kinders tussen 9 en 12, maar ek dink dis perfek vir 13-jariges. Ek het al van heelwat ouers gehoor wat se hulle agtjariges geniet dit ook. En dan laat weet baie volwassenes my op sosiale media dat hulle die boek ook skelm lees wanneer die kinders nie kyk nie! Die Grilgrypers is ’n baie goeie keuse vir kinders wat nie graag lees nie. Menige trae leser het al in kranige lesers ontpop nadat hulle die Grilgrypers met hulle kort hoofstukke en naelbyter-eindes van elke hoofstuk ontdek het. 

Stuur jy jou idees vir die illustreerder wat die voorblad van die boek teken, of hoe werk dit?

Die voorbladontwerp word deur my uitgewer hanteer. Sy kies die illustreerder en besluit self hoe dit gaan lyk. Ek is maar net baie gelukkig dat sy sulke goeie smaak het!

Beplan jy al aan ’n Grilgryper 7?

Ek het ’n paar lekker idees vir nog grilboeke, maar werk tans aan die tweede boek in my nuwe Kies-jou-avontuur-reeks. Indien my uitgewer egter vir nog Grilgrypers vra, sal daar beslis nog wees. 

Is jy tans nog oorsee en wanneer kom jy weer SA toe?

Ja, ek is op die oomblik tuis in Saoedi-Arabië. Dis skoolvakansie hier en terwyl ek nie vanjaar Suid-Afrika toe kon kom nie, skryf ek soveel as wat ek kan. Ek hoop met my hele hart dat ek wel nog vanjaar Kersfees saam met my familie sal kan vier. Indien nie, sal my volgende geleentheid vir ’n kuiertjie eers weer tPaasfees wees. 

Hoe hanteer Saoedi-Arabië die Covid-19- pandemie en hoe beïnvloed dit jou skool waar jy klasgee?

Om eerlik te wees, ek gaan nou wel nie met oogklappe deur die lewe nie, maar ek probeer so min as moontlik nuus oor die pandemie lees of luister. Sover ek weet, hanteer Saoedi-Arabië dit baie goed en dinge is stadig, maar seker besig om elke dag weer nader aan normaal te word. Daar is ’n baie groot verskil tussen bewusmaking en paniek-saai. Solank ek verantwoordelik is en alles doen om myself en ander rondom my veilig en gesond te hou, verkies ek om eerder nie die statistieke dop te hou nie. Al wat ek kan doen om dinge makliker te maak, is om positief te bly en te bid. Tans weet ons nog nie of ons die nuwe skooljaar einde Augustus weer virtueel gaan begin en of ons terug skool toe sal gaan nie. 

Stuur my ’n paar wenke van wat jong opkomende skrywers moet doen as hulle, hul boeke vir die eerste keer na uitgewers stuur?

Sluit ’n goeie dekbrief in met ’n kort opsomming oor jou verhaal, maar moenie die hele storie weggee nie. Maak seker dat die uitleg van jou manuskrip akkuraat is. Korrekte spelling en grammatika is van kardinale belang. Jou storie moet ’n baie sterk en treffende begin hê, anders gaan dit moontlik nie verder gelees word nie. Mik hoog. Stuur die manuskrip na jou eerste keuse van uitgewer. Indien dit afgekeur word, kan jy dit na jou tweede keuse stuur en so aan. Vele manuskripte was eers deur tweede en derde keuses van uitgewers vir publikasie aanvaar en was toe baie suksesvol. Moet dus nie te gou opgee nie.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
17.79
+0.0%
Rand - Pond
21.97
-0.1%
Rand - Euro
19.34
-0.2%
Rand - Aus dollar
11.90
-0.0%
Rand - Jen
0.13
+0.0%
Platinum
991.31
+1.1%
Palladium
1,460.24
-1.2%
Goud
1,969.50
0.0%
Silwer
24.11
0.0%
Brent-ruolie
79.89
+1.6%
Top-40
70,498
-0.8%
Alle aandele
76,100
-0.8%
Hulpbronne 10
66,234
-1.9%
Industriële 25
102,950
-0.3%
Finansiële 15
15,496
-0.9%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos