.
Deel

Hugo se nuwe kies-jou-avontuur boek eersdaags beskikbaar

akkreditasie

Vertel vir ons in kort waaroor gaan jou nuwe boek? Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde gaan oor Gretha, ’n jong tienermeisie wat by haar pa, stiefma en ouer stiefsuster woon, terwyl haar eie ma oorsee werk. Ná ’n onderonsie probeer Gretha haar stiefsuster se gunstelingsprokieboek skeur, maar dan word sy en haar beste vriend, Hannes, na die koninkryk van Fantastorië geteleporteer. Daar vertel die Towerspieël hulle dat hulle slegs terug huis toe sal kan gaan, indien hulle vier spesiale legkaartstukke vind. Hulle ontmoet baie sprokieskarakters, maar die meeste is glad nie dit wat Gretha kleintyd vertel was hulle is nie. Die sprokieswêreld is ’n gevaarlike plek en Gretha sal slegs met die hulp van die leser veilig by die einde kan uitkom.

Vervolg dit op kies jou avontuur 1? Kies-jou-avontuur 1: Die gevaarlikste speletjie op aarde, Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde (April 2021) en Kies-jou-avontuur 3: Die gevaarlikste fliek op aarde (Junie 2021) volg nie op mekaar nie. Dit is drie losstaande stories met verskillende karakters, maar natuurlik is al drie boeke aksiebelaai en propvol hope avontuur, so die lesers wat die eerste boek geniet het, sal die volgende twee beslis ook in die hande moet kry.

Waar het jy opgekom vir idees vir die nuwe boek? Van kleins af al hou ek van sprokies en stories gegrond op sprokies. Ek het eers op die titel van hierdie boek besluit en toe die idee gekry om sprokies in die storie te gebruik. Ek het redelike goeie kennis van sprokies, selfs die minder bekendes, maar ek moes steeds navorsing doen. Ek het begin deur Marita van der Vyver se Die Volledige Sprokies van Grimm te lees, toe kyk ek die Nippon Animation-reeks Grimm’s Fairy Tale Classics op YouTube, daarna het ek aanlyn opgelees oor Hans Christian Andersen en Charles Perrault se sprokies, en laaste het ek die Arabiese sprokies Duisend-en-een-nagte nagevors. 

Verduidelik die skryfproses van die boek. Het jy dit in Suid-Afrika geskryf? Ek het hierdie boek in Saoedi-Arabië gedurende die inperking geskryf, maar die derde boek in die reeks, wat in Junie vanjaar verskyn, het ek in Oktober en November 2020 in Suid-Afrika geskryf.

Wanneer is die boek beskikbaar? Kies-jou-avontuur 2: Die gevaarlikste boek op aarde sal van 20 April af in alle toonaangewende boekwinkels asook aanlyn beskikbaar wees. Dit kan nou reeds bestel word by Loot, Graffiti Boeke, Uppercase Books en enige ander boekwinkel.

Ek sien die boek het ’n klomp verskillende eindes en die leser kan kies watter einde hy/sy wil hê. Hoe werk dit? Aan die einde van die meeste hoofstukke moet die leser die karakters help deur ’n keuse namens hulle te maak. Indien die leser die verkeerde keuse maak, kan die karakters hulle dalk in vreeslike gevaar vasloop en dan een van die meer as 30 eindes van die storie bereik. Hierdie soort boek werk soos ’n speletjies waar die speler gereeld game over beleef, maar net weer oor kan begin. Dit beteken entoesiastiese lesers kan hierdie boeke oor en oor lees.

Vertel van die karakters in jou nuwe boek. Wat het elkeen van die karakters inspireer? Gretha, die hoofkarakter, is pas hoërskool toe en terwyl haar eie ma oorsee werk, woon sy by haar pa, stiefma en stiefsuster, Sybil. Die feit dat haar pa se nuwe vrou en Sybil baie gaaf met haar is, verwar Gretha, want sy het in sprokies geleer dat stief­ma’s en stiefsusters aaklig is. Boonop voel dit vir Gretha asof sy haar ma in die rug steek. Haar beste vriend, Hannes, is ’n normale tienerseun – iewers tussen kind en jongman. Hy gee baie om vir Gretha. Die derde grootste karakter is Kabous, die kabouter wat Gretha en Hannes in Fantastorië, die sprokieswêreld, ontmoet. Kabous is ’n regte knorpot, maar is soms baie snaaks en Gretha kom gou nader aan hom. Die res van die karakters is bekende sprokieskarakters, maar hulle karaktereienskappe en persoonlikhede is glad nie wat die leser sal verwag nie. Ek wou graag doodgewone hoofkarakters skep, maar dit was belangrik vir my om ’n dieper kwessie ook aan te spreek, soos Gretha wat die egskeiding van haar ouers beleef en nou stieffamilie het. 

Wie is jou teikenmark in die boek? Is dit meer gemik op die tienermark? Soos die eerste boek in die reeks, is hierdie boek ook geskik vir lesers vanaf 9 tot 14. Ek weet egter, net soos met my Grilgrypers-reeks, dat daar baie volwasse lesers is wat dit ook baie geniet. Dit wys jou net: Niemand is ooit te oud vir ‘n lekker avontuur nie! Natuurlik is daar die aanname dat seuns nie lief is vir sprokies nie, maar hierdie boek is allesbehalwe ‘n tradisionele sprokieboek. Seuns en meisies wat hou van spanningsverhale en naelbytaksie, sal dit verslind!

Ek hoor jy is tans in Kleinmond a.g.v. reisregulasies, is dit lekker om weer bietjie tuis te wees? Ja, ek het in Oktober 2020 terug Suid-Afrika toe gekom om Kersfees saam met my familie te kon vier, maar sedert Januarie 2021 is ek basies hier vasgekeer. Gelukkig kan ek aanlyn skoolhou, so my werk ly nie daaronder nie. Ek is egter redelik gretig om terug na Saoedi-Arabië te kan reis, want ná 11 jaar daar, mis ek natuurlik my woonstel, roetine en vriende. Maar op die ouderdom van 38 is dit ‘n reusevoorreg om weer soos ‘n kind by my ouers in die huis te kan woon. Hulle bederf my vreeslik en ek kan nie anders as om die Here elke dag te bedank vir hierdie kwaliteittyd saam met my geliefdes nie.

As jy jong skrywers twee wenke kon gee om ‘n suksesvolle boek te skryf, wat sou dit wees? As voltydse laerskoolonderwyser, sal my eerste wenk altyd wees om soveel as moontlik te lees – goeie en slegte boeke, want so leer mens waarvan jy hou en jy leer uit ander se foute. Die meeste gepubliseerde werke dien natuurlik as ‘n model vir goeie skryfwerk. Tweedens sal ek aspirantskrywers aanmoedig om bewus te word van perspektief in stories. Maak jouself bekend met die verskillende soorte oogpunte waaruit stories vertel word. Sodra jy dit verstaan en regkry om jou storie uit slegs een oogpunt te vertel, is jy al halfpad daar om ‘n goeie skrywer genoem te kan word.

Werk jy al aan jou volgende boek, gee vir ons so bietjie inligting oor watter boek jy beplan om volgende te skryf? Ek beplan beslis nog ‘n Kies-jou-avontuur vir volgende jaar, maar het dit nog nie begin skryf of met my uitgewer bespreek nie. My eerste boek vir jonger lesers in die ouderdomsgroep 6 tot 9 verskyn wel volgende jaar by Human & Rousseau. Dan is ek tans besig met ‘n losstaande storie vir die ouderdomsgroep 12 tot 15. Dis ‘n drama en ek hoop dit sal wel eendag as ‘n boek op winkelrakke beskikbaar wees.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
18.31
-0.8%
Rand - Pond
22.50
-1.2%
Rand - Euro
19.78
-0.9%
Rand - Aus dollar
12.18
-0.7%
Rand - Jen
0.14
+0.0%
Platinum
973.10
+0.5%
Palladium
1,418.30
+1.2%
Goud
1,957.34
-1.1%
Silwer
23.08
-0.7%
Brent-ruolie
74.99
-1.2%
Top-40
69,785
+0.9%
Alle aandele
75,284
+0.8%
Hulpbronne 10
64,924
+1.0%
Industriële 25
102,191
+0.6%
Finansiële 15
15,417
+1.6%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos