Een van Suid-Afrika se bekendste grilboek-skrywers, De Wet Hugo, het sy hand aan ’n nuwe avontuur-genre gewaag met sy nuwe boek, Die gevaarlikste speletjie op aarde.
Waaroor gaan jou nuwe boek? Ek dink die agterblad se opsomming gee ’n lekker idee van waaroor die storie gaan (sonder om té veel weg te gee): “Kies versigtig; hierdie avontuur kan gevaarlik wees! Mario is die skool se rekenaarspeletjie-kampioen, maar wanneer hy deur ’n raaiselagtige nuwe speletjie weggevoer word, moet hy vir sy lewe veg. ’n Geheimsinnige wese genaamd Gigabyte verduidelik hy moet na die sewe wonders van die antieke wêreld reis om ses goue muntstukke te vind voordat hy kan terugkeer huis toe. Lewensgevaarlike uitdagings wag op hom; wees gewaarsku. Hierdie boek is anders as enige ander boek. Daar is meer as 30 verskillende eindes vir die storie – en jy is die een wat moet kies! Is jy dapper genoeg om hierdie avontuur te begin? Is jy slim genoeg om die regte keuses te maak en Mario te help om uit die gevaarlikste speletjie op aarde te ontsnap?”
Wat presies is ’n avontuur-boek? Soos die titel van die reeks aandui, is dit een van daardie boeke waarin lesers self besluit in watter rigting hulle die karakters of dan die storie wil stuur. Met meer as dertig eindes, is daar natuurlik heelwat slaggate, maar wat dit lekker maak is dat die boek (amper soos ’n speletjie) oor en oor gelees kan word. Hierdie storie bevat hope avontuur, maar ook ’n bietjie humor en selfs hier en daar ’n tikkie grillerigheid.
Hoe het jy aan die idee gekom vir die nuwe boek? Toe ek ’n kind was, was twee of drie van hierdie boeke in ons skoolbiblioteek beskikbaar. Dit was egter vertalings van oorsese boeke, dus loop ek al baie lank en dink oor die leemte in die Afrikaanse kinderboekmark vir goeie kies-jou-avontuur-boeke. Toe ek uiteindelik snap hoe om so ’n storie te beplan (dit was aanvanklik nie maklik nie), het ek weggetrek en genadiglik het my uitgewer by Human & Rousseau, Simone Hough, genoeg daarvan gehou. Ek werk nou aan die tweede boek in die reeks.
Wanneer is die boek plaaslik beskikbaar? Dit sal van 20 Junie af in alle goeie boekwinkels wees, maar sal ook as e-boek beskikbaar wees. Dit sal natuurlik ook aanlyn bestel kan word – gewoonlik teen ’n afslagprys.
Die ouderdomsgroep waarop die boek gemik is? Dit word vir seuns én meisies tussen nege en 13 aanbeveel. Ek is seker jonger kinders wat goed lees, sal dit ook geniet. Ek twyfel glad nie daaraan dat heelparty ouers saam met hul kinders op hierdie tydreis na die jaar 250 v.C. sal wil gaan nie.
Is dit die eerste van dié soort boek wat jy skryf? Ja, dit is anders as die Grilgrypers-reeks. Die gril-genre sal my altyd na aan die hart lê en ek is nog nie klaar met daardie reeks nie, maar ek is dankbaar dat my uitgewer my die geleentheid met hierdie nuwe reeks bied, want ek wil nie uitsluitlik as ’n gril-skrywer bekendstaan nie. Ek kan in meer genres skryf en sien uit daarna om dit in die volgende paar jaar te doen. Die gevaarlikste speletjie op aarde is die eerste boek in die Kies-jou-avontuur-reeks, maar ek het reeds idees vir die volgende drie boeke en werk nou al aan die tweede weergawe, waarvan ek die werkstitel vir eers maar nog geheim sal hou.
Wat maak jy als in die grendeltyd – werk jy? Ja, ek werk as onderwyser vir ’n Britse internasionale skool in Saoedi-Arabië. Ons werk al twee maande voltyds van die huis af en dit voel werklik asof ons harder as gewoonlik werk, dus is dit in geen opsig rustiger of soos ’n vakansie nie. Die meeste onderwysers soos ek, wat al vyftien jaar skoolhou, is opgelei om voor ’n klas te staan en op die tradisionele manier te onderrig. Toe my skool dus letterlik oornag in ’n virtuele skool verander, was dit swem of sink. Soos die meeste onderwysers maar is, het ek vinnig aangepas en nou, tien weke later, is ek dankbaar vir al die nuwe rekenaarvaardighede en onderrigmetodes wat ek aangeleer het. Dit was aanvanklik baie uitdagend, maar ek is gewis nou ’n beter onderwyser.
Hoe hou jy jouself besig en kry jy meer tyd vir skryf? My werk hou my baie besig, maar die feit dat ek op die oomblik so selde ander mense te siene kry, gee my baie tyd om te dink. Ek voel dus ekstra kreatief en my skryfwerk vorder goed. Ek het heelwat lekker idees en hoop om hulle almal in die nabye toekoms as boeke te sien.
Het jy enige wenke vir jong, opkomende skrywers wat boeke probeer skryf in dié tyd? Lees so veel as moontlik. Wanneer jy besluit watter genre en soort storie jy graag sal wil skryf, lees veral alles wat jy in dieselfde styl in die hande kan kry. Leer deur die skryfstyl van suksesvolle skrywers na te doen, maar leer ook uit die foute van skrywers wie se boeke jy nie geniet het nie. Vind dan ’n middeweg en maak dit jou eie styl. Wees geduldig en kreatief. ’n Oorspronklike, weldeurdagte poging is altyd baie beter as ’n afgejaagde vervelige ou storie. Ontwikkel ’n dik vel en leer om kritiek te hanteer. Onthou – jy skryf eers werklik wanneer jy jou eerste poging herskryf.