.

Badisa Paarl wil kinders veilig hou

akkreditasie

Maart is Nasionale Maatskaplike Werker-maand en Paarl Post gesels met ’n plaaslike maatskaplike werker oor die uitdagings van haar werk hier.

Gwinneth Fourie werk al 11 jaar as maatskaplike werker – ses daarvan by Badisa Paarl, waar sy te doen het met maatskaplike probleme in Paarl-Oos.

Badisa Paarl is ’n organisasie sonder winsbejag wat dienste in Paarl-Oos lewer.

Volgens Fourie het die maatskaplike probleme in sekere gebiede in Paarl-Oos aansienlik toegeneem sedert sy ses jaar gelede hier begin werk het. Sy verduidelik dat waar daar voorheen dalk een probleem in ’n huishouding was, daar nou dikwels sommer vyf behoeftes is.

Fourie vertel ook dat maatskaplike werkers dikwels in ’n negatiewe lig beskou word. “Sekere mense assosieer ons met kinders wegneem; dit is nie die geval nie. Dit is gewoonlik mense wat weet hulle is verkeerd wat so reageer. Maar ons word wel ook in ’n positiewe lig beskou deur diegene wat weet ons is daar om te help.”

Sy vra dat ouers tog nie hul kinders moet bang maak vir maatskaplike werkers om die kinders te probeer beheer nie, maar eerder te laat verstaan dat hulle daar is om die kind te help.

“Ons hoofdoel is om kinders veilig te hou,” sê sy.

Fourie vertel ook dat die waardes en dissipline onder die jongmense oor die jare baie verswak het en dat misdadige gedrag onder jeugdiges aan die toeneem is.

“Kinders weet hulle mag nie pak kry nie – nie in skole nie en ook nie by die huis nie. Hulle het die houding dat ouers en onderwysers niks aan hulle kan doen nie. Dit is ook so dat ouers kinders toelaat om so ongedissiplineerd te wees. Daar is ook kinders wat baie aggressief is – selfs die ma is bang vir die kind. Kinders wil eenvoudig nie onder gesag wees nie en dit lei tot probleme by die skool en dan word dit na ons verwys.”

Sy vertel dat kinders dikwels die ergste geraak word wanneer ouers werkloos is en ook as gevolg van armoede.

“Van 14 jaar oud is ’n kind nie meer skoolpligtig nie en kan ’n kind nie gedwing word om skool te gaan nie. Ons voel kinders moet skoolgaan en ouers moet hul kinders motiveer om hul skoolloopbaan te voltooi, want skoolverlaters veroorsaak dat die siklus van armoede voortgesit word,” sê sy.

Sy verduidelik dat daar ’n paar faktore is wat uitdagings in die gemeenskap is vir maatskaplike werkers sowel as hul kliënte, maar dat een van die uitdagings wat uitstaan mense is wat bang is om aan te meld wanneer hulle sien of vermoed dat kinders nie reg versorg word nie.

“Indien dit oor ’n kind gaan, moet hulle dit aanmeld. Jy kan nie daaraan dink of jou bure kwaad gaan wees nie,” sê Fourie.

Maatskaplike werkers by Badisa het dikwels te doen met hartverskeurende verhale en situasies, maar volgens Fourie is dit vir haar ’n “goeie dag” wanneer ’n kind wat uit die ouers se sorg verwyder is, gelukkig is en verkies om by pleegouers te woon.

“Ek is bly as ek ’n verskil in ’n kind se lewe kon maak.”

Wanneer hul kliënte hul samewerking gee en probeer om hul omstandighede te verbeter en sodoende na die kind se welsyn om te sien, bring dit ook vreugde by die span van Badisa.

Sy sê sy en haar kollegas het so ’n hegte band dat hulle mekaar ondersteuning bied wanneer dinge te veel raak en ook net om hulself te vind in die moeilike omstandighede waarvoor hulle dikwels te staan kom.

Die ander maatskaplike werker by Badisa is Charmonay Singh. Die span het ook ’n maatskaplike hulpwerker.

Badisa Paarl se kantoor is geleë by 367 JFC Building, Hoofstraat, Paarl.

Mense wat van hul maatskaplike dienste gebruik wil maak, kan daagliks tussen 08:00 en 16:00 ’n afspraak maak of die kantoor by 021 870 1697 skakel.

Badisa Paarl doen ook ’n beroep op Paarliete om hulle te help met skenkings soos kos, klere of speelgoed en selfs om as vrywilliger betrokke te raak. Die behoefte aan veilige ouers sowel as pleegouers is ook groot. Belangstellendes kan die kantoor skakel of Badisa Paarl besoek.

besig om te laai... Regstreeks
South Western Districts 0
Titans 192/5
besig om te laai... Regstreeks
Papua New Guinea 0
Scotland 0/0
Inperking vir
DAE
URE
MIN
Rand - Dollar
14.57
+0.7%
Rand - Pond
20.08
+0.1%
Rand - Euro
16.98
+0.3%
Rand - Aus dollar
10.88
-0.1%
Rand - Jen
0.13
+0.5%
Goud
1,779.33
+0.8%
Silwer
23.71
+2.2%
Palladium
2,083.00
+2.9%
Platinum
1,052.83
+1.5%
Brent-ruolie
84.33
-0.6%
Top-40
60,320
+0.4%
Alle aandele
66,912
+0.4%
Hulpbronne 10
64,002
+1.0%
Industriële 25
84,631
+0.3%
Finansiële 15
13,990
-0.3%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy
Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos