
Met meer as drie dekades se toegewydheid aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens – plaaslik asook internasionaal – tree die geharde kolonel Brian Oppelt aan die einde van Maart af.
Oppelt het in 1984 as konstabel by die Paarl-Oos-polisie begin. Dit was vir hom ’n groot voorreg om die gemeenskap waar hy grootgeword het, te dien en misdaad te help bekamp.
“In my vormingsjare het ek in Chicago grootgeword. Ek het gesien hoe jongmense in die gewoonte van dwelmafhanklikheid en misdaad verval en selfs by bendes aangesluit en bendes gevorm het. Ek het gekies om by die polisie aan te sluit om ’n verskil in die toekomstige geslagte van ons gemeenskappe te maak.”
Gedurende sy tyd by die Paarl-Oos-polisie was hy bekend daarvoor om dwelmhandelaars in die gebied ’n strawwe tydjie te gee.
Oppelt is in 1993 tot die rang van luitenant bevorder, waarna hy as die hoof van die misdaadvoorkomingseenheid van Paarl-Oos aangestel is.
“Ek is ook by verskeie ander take betrek en was in 1996 die bevelvoerder van ’n span wat gesoekte verdagtes opgespoor het. Dit was in opdrag van die destydse nasionale kommissaris. Ek en my span het die meeste inhegtenisnemings van sulke opsporingspanne in die land uitgevoer, met altesaam 972 gesoekte verdagtes.”
Oppelt se harde werk en lojaliteit in die bekamping van misdaad en vastrek van misdadigers het daartoe gelei dat hy in 1998 as kaptein in die Suid-Afrikaanse dwelmeenheid (Sanab) in die Paarl aangestel is. “Hier was ek ’n groepleier en ondersoeker en is laat in 1999 as die bevelvoerder van Sanab aangestel. Met hierdie aanstelling het ek die eerste bruin bevelvoerder van ’n gespesialiseerde eenheid in Suid-Afrika geword. Ek en my eenheid het gespesialiseer in die ondersoek van dwelmverwante misdade en het met ander Sanab-eenhede en buitelandse wetstoepassingsagentskappe in die stryd teen dwelmverwante misdade gewerk.”
Vir Oppelt was dit belangrik om die gemeenskap in te lig en op te voed oor dwelms en dwelmmisbruik, dus het hy gereelde praatjies by verskeie skole, kerke en ander organisasies gelewer.
Oppelt het in 2001 verder die rangleer geklim toe hy as luitenant-kolonel aangestel is. Sanab en ander gespesialiseerde polisie-eenhede in die Paarl het ook saamgesmelt om die nuwe Paarl-eenheid teen georganiseerde misdaad te vorm, waarvan hy ook bevelvoerder was.
“Ek is in 2005 tot kolonel bevorder en is na die Valke se hoofkantoor in Pretoria verplaas. Hier het ek ’n kursus in georganiseerde misdaad vir Valke-speurders ontwikkel en hul bedryfstandaarde en -beleid ontwikkel.”
Tussen 2005 en 2011 het hy lesings oor georganiseerde misdaad by verskeie internasionale polisie-akademies, waaronder in Australië, Namibië, Botswana, Mosambiek en Granada, gelewer.
Oppelt is in 2012 na Kenia as ’n polisie-attaché verplaas, waar hy by die SA hoëkommissariaat in Nairobi gestasioneer was. ’n Attaché is iemand in die personeel van ’n land se ambassadeur wat ’n gespesialiseerde verantwoordelikheid het.
Hy was ná vier jaar terug in Suid-Afrika en by Interpol in Pretoria gestasioneer. Daarna is hy in 2017 as die hoof van misdaadintelligensie van Worcester aangestel en verlede jaar as die bevelvoerder vir die Wynland-distrik se misdaadintelligensie.
Dit is ’n groot riem onder die hart vir Oppelt dat hy ’n goeie bydrae tot polisiëring hier op tuisbodem asook internasionaal kon lewer.
“Ek moet sê ek was baie bevoorreg om te kon doen wat ek gedoen het en met al die dinge wat ek in my loopbaan bereik het. Dit het egter harde werk en toewyding geverg. Wat ek ook al gedoen en bereik het, dra ek op aan my gemeenskap en familie.”
Buiten dat Oppelt baie goeie werk deur die jare gelewer het, het hy ook tyd gemaak vir plesier en die polisie in sport te verteenwoordig. Hy het van jongs af ’n groot liefde vir krieket en rugby.
Oppelt het 10 jaar vir die Paarl-Oos-polisie-rugbyklub gespeel. Hy het ook vir die polisie se Boland- en Wes-Kaapse spanne krieket gespeel en is as die nasionale polisie-krieketspan se bestuurder aangestel, wat in sy tyd drie polisie-krieketwêreldbekers gewen het. Dit was in 2001 in Australië, 2004 in Engeland en 2007 in Suid-Afrika.
Nog ’n hoogtepunt in Oppelt se loopbaan is dat hy aangestel is om die Fifa-Wêreldbekersokker in 2010 vanuit ’n ondersoekende perspektief te bestuur.
Oppelt bedank sy vrou, Sharon, en sy drie dogters – Angelique Oppelt-Henderson, Anelicia Oppelt en Bianca Oppelt – wat hom deur die jare in sy loopbaan ondersteun het.
“Met my lang tye wat ek van die huis af weg was, kon dit nie vir hulle maklik gewees het nie. My vrou het die bootjie aan die gang gehou en my kinders het almal hul studies suksesvol voltooi. Die hartlikste dankie aan julle vir die geloof wat julle almal in my getoon het. Ek is regtig trots op julle.
“Ek wil ook net die Here dank dat Hy te alle tye deur my loopbaan Sy hande oor my gehou en my gesin veilig gehou het. Hy het my en my werkspan geseën en ons veilig gehou.”
Buiten dat hy instandhoudingswerk aan sy huis wil doen, is Oppelt nog nie seker wat hy ná aftrede gaan doen nie, maar hy het iets in gedagte.
“Ek wil graag by ons munisipale wetstoepassing gaan werk sodat ek net op die Drakenstein-gebied kan fokus en ’n direkte rol in die lewe van ons inwoners kan vervul. Dit hang natuurlik af of daar ’n opening vir my is!”