
’n Vreedsame optog van 200 vroue en plaaswerkers het ’n dag voor Vryheidsdag plaasgevind.
Dié vroue en plaaswerkers het hul toenemende kommer en woede oor plaasuitsettings teenoor die Paarl-landdroshof en Drakenstein-munisipaliteit (DM) uitgespreek.
“Terwyl die res van die land Vryheidsdag vier, het plaaswerkers- en -bewoners min rede om iets te vier,” lui die memorandum wat Women on Farms (WFP)-projek op 26 April aan die hof en munisipaliteit oorhandig het.
Dit volg ná die opheffing van die nasionale ramptoestand op 5 April wat al hoe meer informele plaasbewoners dreig met moontlikhede om op straat of in oorvol plakkerskampe te beland.
Carmen Louw van die WFP sê die ramptoestand het tydelike verligting aan diegene wat met plaasuitsettings bedreig word, gebied. “Nou verwag ons ’n skerp styging in plaasuitsettings omdat baie werkers mondelings, of deur middel van intimidasie of regstappe deur grondeienaars gedreig word. Toenemende daadwerklike aksie word in dié verband verwag.”
Sy meen dat ’n meerderheid van hofuitsprake ten gunste van uitsettings is, “terwyl die Drakenstein-munisipaliteit gewoonlik nie behoorlik voorbereid is om die mense wat uitgesit word met alternatiewe behuising te help nie.
“Ons vereis dat plaasuitsettings wat deur die hof goedgekeur word menslik benader sal word om ook ons regte en integriteit te respekteer.”
Louw voer aan dat die Drakenstein-vallei en breër Kaapse Wynland ’n brandpunt van plaasuitsettings is.
“Ons verneem dat ongeveer 20 000 werkers, vroue en kinders in die Wynland uitsettings in die gesig staar en daar is geen politieke wil of finansies om die probleem uit ’n menseregte-oogpunt te benader nie.”
Die WFP se vereistes aan plaaslike owerhede behels die volgende: Dringende omgewing- en kringvergaderings met landdros- en polisiehoofde in die breër Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit om die pad vorentoe oor die wyse waarop uitsettings uitgevoer sal word, te bespreek.. Die Drakenstein-munisipaliteit moet gedetailleerde planne, tydlyne en begroting-toekennings verskaf wat geïntegreerde behuising-ontwikkelings aan uitgesette plaaswerkergemeenskappe voorsien.
Die memorandum voer aan dat die uitsettingskrisis ook direk aan historiese grond-ongelykheid gekoppel is, waarvan die oorsprong uit historiese grondonteiening spruit.
“Daar is soveel van die plaaswerkers wie se voorgangers van slawerny afkomstig is en wie se grond destyds deur setlaars onteien is. Ons verwag dat die nasionale regering en die Drakenstein-munisipaliteit grondonteiening en -herverdeling weer moet opneem en plaaswerkers van hul eie grond in die Wynland voorsien,” het Louw verduidelik.
Navraag is aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig om vas te stel of die WFP se uitlatings oor die kwessie geldig is en om vas te stel of stappe geneem word om dit te hanteer.
Terugvoer is nie teen druktyd verskaf nie.
* The Women on Farms Project held a peaceful protest about farm evictions at the Paarl Magistrates’ Court on 26 April in which a memorandum was handed over to the chief magistrate and DM.