Om ’n skoonmaakdiens tydens die Covid-19-pandemie te lewer, kan sekerlik vreesaanjaend wees – veral wanneer jy dié diens in ’n hospitaal moet verrig.
Paarl Post gesels met Nadia Jacobs (41), ’n skoonmaker van Tsebo, wat dié noodsaaklike diens in ’n hospitaal in die Paarl verrig.
Nadia, ’n Paarliet, vertel sy werk al 10 jaar as skoonmaker en dit is vir haar belangrik om met die eerste probeerslag seker te maak dat sy haar werk reg en tot die beste van haar vermoë doen.
Volgens Nadia, die broodwinner vir ’n huishouding van ses mense, is haar familie partykeer bekommerd omdat sy juis nou tydens die pandemie in die hospitaal werk, maar sy sê sy stel hulle gerus dat sy goed opgelei is om die Covid-19-voorsorgmaatreëls te volg en haar toepaslike beskermende persoonlike toerusting te dra om haar risiko te verlaag.
“Omdat ons in ’n hospitaalomgewing werk, is ons opgelei en gewoond daaraan om die hoogste higiëniese en veiligheidstandaarde te volg. Maar, ja, Covid-19 het beslis die belangrikheid van streng higiëne-maatreëls weer beklemtoon. Ek volg streng al die Covid-19 voorkomende maatreëls, insluitend sosiale afstand, gereëlde sanitering van my hande, die dra van my gesigmasker en ander persoonlike beskermende toerusting.”
Sy sê ook die druk kan soms oorweldigend voel wanneer sy besef hoe belangrik ’n skoon omgewing vir die herstelproses van ’n pasiënt is.
“Op daardie noot probeer ons as skoonmaakspan om mekaar in ons oggendbyeenkoms op te bou deur ’n gesamentlike gebed te doen en om vir mekaar waardering te toon en erkenning te gee vir ons bydrae.”
Nadia sê sy probeer ook haarself teen die virus beskerm deur elke dag haar multi-vitamiene te drink. Sy probeer ook om gereeld stoom in te asem wanneer sy tuis is en drink warm drankies op haar rustye by die werk.
“Ek dra ook my korrekte persoonlike beskermende toerusting in elke area waar ek skoonmaak. Ek probeer oral dieselfde veiligheidsmaatreëls toepas wat ek by die werk doen, selfs wanneer ek in die openbaar beweeg.”
Volgens Nadia hanteer sy haar vrese oor die virus deur te vra wanneer sy nie seker is oor iets nie en dat sy probeer om haar nie te veel te steur aan wat alles op sosiale media verskyn nie.
Oor hoe sy voel oor die feit dat haar werk en die diens wat sy lewer, ’n bydrae tot die groter prentjie lewer om mense veilig teen Covid-19 te probeer hou en dat sy ook ’n noodsaaklike werker is, sê sy dit laat haar “baie goed en trots voel om deel van die oplossing te wees”.
“Ek geniet dit om met verskillende mense te kan kommunikeer en is trots om deel te wees van ’n baie professionele skoonmaakspan,” sluit sy af.