Die lang wag is verby – hierdie naweek vind een van die land se grootste en opwindendste hinderniswedlope in die hartjie van die Paarl plaas, Legend Runner.
Die pretvolle hinderniswedloop vind plaas deur die strate van die Paarl en langs die Bergrivier. ’n Nuwe item wat deel is van vanjaar se Legend Runner is die 2 km-interskole-uitdaging, wat Vrydag 6 Mei reeds van die Faurestraat-stadion af plaasvind.
Saterdag 7 Mei vind die 7 km- en 15 km-wedlope plaas. Vanjaar vat plaaslike restaurante hande met Legend Runner en tydens die wedloop sal deelnemers met spesiale verrassings by die eetplekke op die roete getrakteer word.
Die fokus by vanjaar se wedloop is toeristebestemmings van die Paarl en dit sal ook deur mededingers besoek word. ’n Algemene Mardi Gras-atmosfeer word verwag en toeskouers word aangemoedig om deelnemers langs die roete te ondersteun. Verskeie eetplekke sal spesiale aanbiedings op die wedloopdag hê en deelnemers en die publiek word aangemoedig om hulle te ondersteun. Deelnemers word weer genooi om in ware Legend Runner-styl prettig aan te trek met vanjaar se Run like a Zombie-tema. Groot pryse sal vir die besgeklede hardlopers op die spel wees. Vir inskrywings en meer inligting besoek www.entryninja.com.