“Mag jy in interessante tye leef!”
Hoewel dié gesegde oënskynlik as ’n seën bedoel is, word dit gewoonlik ironies gebruik.
Buiten beurtkrag en misdaad is daar nou ’n nuwe gonswoord, kunsmatige intelligensie (KI), wat vele uiteenlopende reaksies ontlok.
As iemand wat oplossings bied wat gekoppel is aan KI, masjienleer en neurale netwerke, verstaan ek waarom sekere mense skrikkerig is. Die nuwe tendens wek kommer oor werksverliese, inbreuk op privaatheid en etiese kwessies soos vooroordeel en gebrek aan aanspreeklikheid.
Elon Musk is ’n prominente stem in die debat. Hy waarsku dat KI chaos kan veroorsaak deur byvoorbeeld outonome wapens te skep wat kwaadwillig gebruik kan word.
Mark Zuckerberg het weer ’n meer optimistiese siening. Hy reken dat KI die potensiaal het om mense se lewe aansienlik te verbeter, en vooruitgang in gesondheidsorg, onderwys en kommunikasie te verseker.
Altwee beklemtoon egter die noodsaaklikheid daarvan dat KI op ’n deursigtige manier ontwikkel en verantwoordelik gebruik word.
KI kan dokters help om siektes meer akkuraat te diagnoseer en verpersoonlikte behandelingsplanne te verskaf. Dit kan persoonlike leerervarings verskaf en studente-uitkomste verbeter. KI kan herhalende take outomatiseer, wat tyd beskikbaar stel vir mense om op hoërvlakwerk te fokus. ’n KI-aangedrewe kletsbot (“chatbot”) kan vinnig en akkuraat antwoorde op kliënte-navrae verskaf. Mense met spraak- of gesiggestremdhede kan met ondersteunende tegnologie beter funksioneer. KI kan stadsbeplanners help om beter besluite oor hulpbron-toewysing en infrastruktuurontwikkeling te neem. KI kan misdaad verminder, ongelukke help voorkom en noodreaksietye verbeter. KI kan ook mense se gedrag en voorkeure ontleed om hulle van meer verpersoonlikte aanbevelings, advertensies en dienste te voorsien.
As KI verantwoordelik aangewend word, kan dit saam met menslike vernuf bydra om ons planeet ’n baie beter plek te maak. Moet dus nie bang wees vir vooruitgang en die toekoms nie.