
“Dit is presies vier jaar gelede dat ek besluit het om my 33 jaar as verpleegster vaarwel te roep om my gemeenskap beter te dien.”
Só vertel suster Olivia Pharo nadat haar primêre gesondheidsorgkliniek sy deure in 2019 geopen het.
“Woensdag 1 Maart het ons vier jaar deur baie sweet en trane gevier,” vertel dié Moeder Theresa van Atlantis.
Suster Pharo, soos sy alombekend staan, sê die kliniek bied toegang tot beter gehalte gesondheidsorg vir almal – veral weens die huidige werkloosheidskrisis.
“Ek het my roeping 33 jaar gelede nagestreef om mense te dien en op 1 Julie 1994 my loopbaan by die Panorama private hospitaal as professionele verpleegster begin.
“Dit was moeilike tye. Poste was gevries en dit was die begin van ’n demokratiese proses vir die land. My werk het my destyds met verskillende mense paaie laat kruis en dit het my meer laat besef dat dit ’n roeping was, en nie net ’n werk nie.”
Pharo het in 1995 by die plaaslike hospitaal begin, waar sy in die kraamafdeling, die ongevalleafdeling en algemene sale gewerk het.
“Ek het oor die jare geleer om almal ongeag status, ras en geloof dieselfde te behandel en implementeer vandag steeds dit waarin ek glo.
“Ek was vir 18 jaar ’n verpleeg-bestuurder by die hospitaal en het toe besluit om eerder meer te doen, omdat die kanse om verder te groei, al skraler geword het. Ek wou meer vir die plaaslike gemeenskap doen. Ek het my pensioengeld, wat ek vir myself en my familie kon gebruik, gebruik en gedoen wat ek dink die beste vir Atlantis is.
“Ek het my ideaal verwesenlik en my drome vir beter gesondheidsorg vir almal het ’n werklikheid geword, en vandag – deur storms en moeilike tye – is ons steeds hier. Ons glo in ‘menslikheid eerste’, daarom kom pasiënte van so ver as Darling en Malmesbury hierheen. Ons sal nooit die deure in iemand, wat gehaltegesondheidsorg nodig het, se gesig toemaak nie.
Pharo bieg finansieel is dit moeilik, maar sy sê sy weet “die Here het my op hierdie pad gesit om ’n verskil in my gemeenskap te maak”. Daarom sal sy en die span se deure oop wees vir mense wat hulle nodig het. “Ons maak ’n verskil; ek kan dit sien. Maar die kliniek moet ook oorleef en vir ’n tweede jaar kon ek nie ’n salaris verdien nie, maar dit motiveer my meer en meer om uit te reik,” vertel sy.
Suster Pharo het, ten spyte van die uitdagings, verlede jaar vyf bejaardes aangeneem wat hul mediese behandeling by haar gratis ontvang het en sy doen vanjaar dieselfde.