
Hulle is voor hul kollegas, leerders, familie en vriende “verneder”.
Atlantis is Donderdag tot in sy fondamente geruk toe 17 mense op klagtes van bedrog in hegtenis geneem is. Die inhegtenisnemings is by Atlantis Sekondêr, Paarl, Wellington en Philadelphia uitgevoer en het ’n 80-jarige pensioentrekker van Atlantis ingesluit.
Die groep, wat ’n voormalige skoolhoof, die waarnemende skoolhoof, voormalige onderwysers, departementshoofde, twee huidige skoolhoofde, ’n lektor en beheerliggaamlede insluit, het Vrydag in die plaaslike hof verskyn en is op borgtog van R2 000 tot R3 000 vrygelaat.
Die 80-jarige Margaret Alexander is op waarskuwing vrygelaat nadat haar regsverteenwoordiger gesê het sy het slegs R50 van haar pensioengeld oor.
Waarnemende hooflanddros Jerome Koerries het egter besluit om haar op waarskuwing vry te laat nadat die aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag, Machipa Seroto, geen besware gehad het nie.
Die voorval spruit uit vermeende tenderbedrog sedert 2007 tot 2011.
Seroto het aan die hof gesê die verdagtes het vermoedelik versuim om die “learners school transport contract” van die WKOD op tender te plaas nadat die aanvanklike ses maande verstryk het, en dit tot die bedrogklagte van R12 miljoen gelei het.
Volgens Ronald Rickerts, wat drie van die verdagtes verteenwoordig – onder wie Alexander – sê die eenheid vir spesiale ondersoeke kon hul kliënte beter hanteer het, veral omdat sy bejaarde kliënt ’n nag in die selle moes deurbring. Rickerts het aan Weskus Nuus gesê hulle het nog nie die dossier onder oë gehad nie, en die inligting wat die aanklaer aan die hof voorgelê het, is “baie onduidelik”.
“Ons verstaan die aanklagte, maar geen skool in die land werk met tenders nie, omdat die departement self daarmee werk.” Volgens Rickerts hoop hy nie die verdagtes word gestraf omdat “iemand in die departement nie sy werk gedoen het nie”.
Elton Rochert, wat sewe van die verdagtes verteenwoordig, sê hy is ook stomgeslaan oor die aanklagte.
Hy bevestig ook dat die dossier nog nie aan hulle verskaf is nie, maar wat hy van sy kliënte verstaan, weet hulle nie hoekom hulle daar is nie. Rochert het ook gesê gebaseer op die aanklaer se verklaring weet hy nie hoe die staat die saak sal kan bewys nie, omdat sy kliënte “nie met tenders gewerk het nie”.
Die groep is deur ’n groot groep kollegas, vriende en familie ondersteun.
Hulle is op 24 April terug in die hof.