
’n Man met ’n ongelooflik klein hart – dít is hoe wyle JP Mouton se familie hom beskryf.
Mouton is Maandag 25 April aan ’n hartaanval oorlede.
Hy is op 25 Desember 1977 as die oudste van twee kinders gebore. Hy het op 18-jarige ouderdom Langebaan toe verhuis, maar was geen vreemdeling aan die dorp nie juis omdat hy en sy familie vakansies in Langebaan deurgebring het.
Medelye het ná die nuus van sy dood op Facebook ingestroom. Sy suster, Mareza Wild, beskryf hom as ’n “gentle giant” en iemand wat baie bekend was in sy gemeenskap.
“Hy het ’n groot liefde vir kinders, ons ouma en ons tannie en hul kinders gehad; dis wat ek die meeste van hom gaan mis,” vertel Wild.
Mouton het op die ouderdom van 22 jaar in sekuriteit begin werk. Hy het nege jaar diens gelewer aan Alex Alarms en het daarna by MSS Sekuriteit in Langebaan aangesluit.
“Hy was betrokke by die buurtwag en GPF en was in ’n stadium ’n reservis by die Langebaan-polisiekantoor. Enigiemand kon enige tyd op hom staatmaak.”
Alhoewel Mouton nooit getrou het of kinders van sy eie gehad het nie, vertel Wild hy het ná hul ma se afsterwe na hul ouma omgesien.
“Hy was ’n drukkie-mens en altyd goedhartig. Meer kan ek nie sê nie, behalwe dat hy ’n ongelooflike mens was en ’n liefde vir God gehad het.”
Wild bedank almal vir hul ondersteuning en medelye wat hulle gedeel het.
Mouton se begrafnis word Vrydag (6 Mei) om 12:00 in die NG kerk in Langebaan gehou.