
’n Groep inwoners van Vredenburg het op Vryheidsdag bymekaar gekom om die Bokrivier skoon te maak.
Louis van Lill het ’n paar weke gelede langs dié riviertjie, wat deur Vredenburg vloei, gaan stap en was geskok oor die gemors in en om die water.
Hy het op die Paternosterpadbrug aan die buitewyke van Vredenburg gaan staan en ’n video van die bemorste waterstroom gemaak, wat hy daarna op Facebook geplaas het om mense te nooi om die rivier op 27 April saam met hom te kom skoonmaak.
In die video het Van Lill gesê Bokrivier moet skoongemaak en daarna in stand gehou word.
Volgens hom word die mooi riviertjie nie ten volle benut nie.
Hy reken ’n wandelpad met die rivier langs is ’n goeie idee en dit kan vir pretdrafgeleenthede gebruik word.
’n Hele paar Vredenburgers het op die plasing gereageer en aangebied om op Vryheidsdag met die skoonmaaksessie te help.
Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) het ook die video op Facebook gesien en aangebied om te kom help. Die SBM het ook ’n vraghouer en vullissakke vir die rommel aan die vrywilligers beskikbaar gestel.
Talle vrywilligers het verlede Woensdagoggend by die rivier bymekaar gekom, hul moue opgerol, aan die werk gespring en genoeg gemors opgetel om die bak van ’n ligte vragmotor te vul.
Al die vrywilligers, asook Abubaker Nakerdien, John Talmakkies en Freddy Zimrie van die SBM, word bedank vir hul insette om van hierdie gemeenskapsprojek ’n sukses te maak.