
Rooftogte en die diefstal van kabels blyk van die algemeenste misdade in Saldanha te wees.
Dit is volgens Dianne Adams, die voorsitter van die Tabakbaai-buurtwag. “Ons het met 52 lede begin, maar stadig het van hulle begin wegval. Die groep patrolleer die strate in reën en sonskyn. Ons gemeenskap is stukkend daar buite, maar ons het ’n passie vir die mense in die gemeenskap,” meen Adams.
Adams en die lede van die Tabakbaai-buurtwag het Donderdag onder meer flitsligte, fietse en baadjies van die minister van gemeenskapsveiligheid en polisietoesig, Reagen Allen, ontvang.
Allen meen dit is belangrik om beste praktyke soos dié van die Tabakbaai-buurtwag te neem om suksesse by andere te dupliseer.
“Ek het my broer weens dwelms verloor en ek is seker as ek enige van julle [buurtwaglede] sou vra, ken ons almal iemand wat gesteek of beroof is of aan dwelms verslaaf is. Dit is daarom wonderlik om te sien julle neem eienaarskap van die gemeenskap, want die polisie kan nie alles doen nie.
“Dit is julle wat in die gemeenskap woon; dit is julle wat die gemeenskap uiteindelik vertrou en dit is julle wat die polisie se hand kan versterk om uiteindelik te werk na ’n tydperk wanneer buurtwagte nie meer nodig sal wees nie,” het hy gesê.
Allen het nog toerusting en opleiding aan die plaaslike buurtwag beloof. Die opleiding sal onder meer noodhulp en ondersteuning vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld insluit. Volgens Allen het die provinsie meer as 17 000 vrywilligers wat deel van honderde buurtwagte is.
Saldanhabaai se burgemeester, André Truter, self ’n lid van sy plaaslike buurtwag, het Adams en die buurtwaglede vir hul goeie werk geprys. Hy het bygevoeg hy is bly om al die jong mans te sien wat deel van die groep is. Dié lede is bekend as die “flying squad” aangesien hulle vinnig is om te reageer.
Allen het bygevoeg die enigste manier om misdaad suksesvol te bekamp, is om georganiseerd en saam teen misdadigers op te tree, aangesien skelms van die mees georganiseerde groepe is.
Die oorhandiging van die toerusting kom nadat Allen saam met Ricardo Mackenzie, die LUR vir mobiliteit, en plaaslike wetstoepassers vroeër die dag ’n padblokkade gehou het.
By die padblokkade is vele voertuie deur plaaslike wetstoepassers, verkeersbeamptes en lede van Swartland se K9-eenheid voorgekeer en deursoek. Mackenzie het gesê die afname in padsterftes aan die Weskus is goed om te sien, maar meer kan gedoen word. “Ons as ’n samelewing het so gewoond geraak aan padsterftes, maar net een is een te veel. Alle motoriste en padgebruikers ken die padreëls – dit is ’n gedragsprobleem. Daarom is die sigbaarheid van beamptes uiters belangrik en padgebruikers sal verantwoordelikheid vir hul aksies moet neem,”
Ses voertuie is by die Saldanha-padblokkade geskut, 16 artikel-56-boetes en sewe vir openbare vervoer-oortredings is uitgereik.