
“Ek is lief vir jou, Boetie.”
Hierdie ses woorde was die 16-jarige JP van Ross se laaste woorde aan sy 14-jarige boetie, enkele oomblikke voordat hy gesterf het nadat hy onder ’n hoop sand vasgesit en versmoor het.
JP en sy broer, Sheldon, het Maandag (20 Febraurie) ghoemavye (’n vyeplant waarvan die vrug geëet word) gaan pluk en toe op die oop stuk veld in Hexpark gaan sit om dit te nuttig. Volgens die seuns se ma, Nicolet, het hulle gereeld ná skool in die omgewing gespeel.
Die omgewing reg agter Edenskool en die Maranata-Christen-gemeente in Hexpark is ook onlangs geskraap en deur die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) opgeknap nadat talle klagtes van onnetheid, rommelstrooiery en gate aangemeld is. Standard het ook al talle kere berig oor verkragtings, rooftogte en ander misdade op hierdie stuk grond.
Die seuns het na bewering in ’n oop gat gaan sit. Volgens Nicolet beweer Sheldon hulle het stemme gehoor en die volgende oomblik het ’n hoop sand om hul neergestort. Sheldon kon betyds na bo kom, maar JP was onder die sand vasgevang.
Sheldon het na bewering alles probeer om sy broer uit die sand, wat weens die reënval nat geword het, te red.
“Dit was net ná 7de Laan; seker so 19:00 se kant. Wasiem (’n familievriend wat naby woon) het my kom roep en gesê ek moet saam hospitaal toe gaan; JP het seergekry. Ek was geskok en het nie geweet wat om te doen nie,” verduidelik ’n gebroke Nicolet aan Standard.
Nadat hulle by die hospitaal aangekom het, is die gesin dadelik in kennis gestel dat JP reeds oorlede is en niks kon vir hom gedoen word nie. Dit blyk egter sy longe het platgeval weens sy asemnood onder die sand en in die modder.”
Nicolet vertel verder Sheldon het gespartel om sy broer te red, maar kon nie daarin slaag nie.
“Sheldon het toe na Wasiem se huis gehardloop om hom te roep, en hulle het hom probeer uitkry. Wasiem het hom uitgekry. Hy was vir ’n oomblik nog by en hulle het met hom hospitaal toe gejaag en ons toe later kom haal. Medici by die hospitaal het alles probeer doen om hom te red, maar dit was toe reeds te laat.”
JP se ma sê Sheldon is erg getraumatiseer oor die voorval.
“Hy is gebreek en stukkend. Dit is vir my erg dat my kind deur hierdie moes gaan. Dit is vir my aan die ander kant sleg om my kind te moes verloor. Ek sou nooit kon dink dat ek my kind sal moet begrawe nie. Sy begrafnis is nou twee dae voor sy 17de verjaarsdag,” voeg Nicolet by.
Sy sê Sheldon het vir haar gesê sy boetie se laaste woorde was dat hy lief is vir hom – dit terwyl hy besig was om onder die sand te versmoor.
JP was ’n leerder by die Hoërskool Esselenpark en die nuus van sy afsterwe is wyd op WhatsApp gedeel. Talle boodskappe van medelye het ingestroom nadat die nuus gedeel is.
“My seun was ’n tipiese tienerseun. Hy het soms laat uitgebly en dan moes ek hom skel, maar hy was net kind. Hy wou net speel. Hy het altyd in die huis gehelp en sy deel gedoen. Sy boetie en kleinsussie was baie lief vir hom. Vir haar is dit net so erg.”
’n Geregtelike doodsondersoek is deur die Worcester-polisie van stapel gestuur.
Erna Visagie, die adjunkhoof by Edenskool, vertel aan Standard hulle was net so geskok om te verneem van die tragedie net agter die skoolterrein.
“Ons lig leerders gereeld in oor die gevare, maar ons is dankbaar ons skool is omhein. Dit kan met enigeen gebeur. Die grond langs die skool waar dit gebeur het, is onlangs geskraap, hoewel onkruid weer erg begin groei het.”
Die gebied was ’n paar maande gelede nog erg bestrooi met rommel en gekenmerk as ’n plek waar veral voetgangers versigtig moet wees.
Gemeenskapslede meen egter hierdie gate ontstaan weens die feit dat mense sand gaan uitgrawe vir bouprojekte en dan die gate net so agterlaat.
Standard het na die BVM oor die voorval uitgereik. Teen druktyd was ons navrae nog onbeantwoord.
Die gesin vertel dat die BVM en veral die burgemeester, Antoinette Steyn, hulle bystaan om die regte prosedures te volg om ’n graf vir JP te kan bespreek.
“Ons is dankbaar daarvoor. Ons kort al die hulp wat ons kan kry. Dit is ’n duur storie – ons het nie polisse nie,” voeg Nicolet by.
JP word Saterdag 4 Maart begrawe.. Die gesin verwelkom enige vorm van hulp of skenkings. Mense wat kan help, kan Nicolet by 072 202 6630 bel.