Tydens hul leerkontrak by Baker Tilly Greenwoods het Louw Barnardt en Dana Pretorius besef daar is ’n vraag na gehalteboekhouwerk en finansiële advies vir klein en mediumondernemings (KMO’s).
Teen die einde van 2013 het dié twee, eerder as om poste as geoktrooieerde rekenmeesters te aanvaar, hul eie finansiëledienste-onderneming, Outsourced CFO, begin.
Jacques le Grange het later by hulle aangesluit. “Ons het swak finansiële beplanning en bestuur geïdentifiseer as die grootste redes waarom baie beginmaatskappye net ’n paar jaar oorleef,” sê Barnardt. Outsourced CFO is begin met ’n klein lening wat gemaak is met ’n woonstel van Barnardt in Bellville as sekuriteit.