Kuier
Deel

Hoofstuk 4 vervolg

akkreditasie

“Dis nie net griep hierdie nie.” Die doktertjie se stem kom deur die newels na hom toe aan. ’n Kring van gesigte kyk angstig op hom af. Slim van hom gewees om om te kap voor die medikus die geselskap verlaat het. “Ben! Is jy oukei?” Die herinnering aan Bernice se sagte lyf half onder syne is genoeg om die vernedering uit te kanselleer. Veral as sy met sulke mooi jammerkry-oë na hom kyk. “Kom, laat ons jou net op die bank kry.” Darius en Werner lig hom soos ’n sak aartappels en plak hom redelik onsag op die bank neer. Wel, nie een van die twee het seker tot dusver rede om nou eintlik versot op hom te wees nie. “Beskryf vir my hoe jy voel.” Gelukkig weet Werner darem wanneer om professioneel te wees. Genade, maar dis moeilik om sy gedagtes bymekaar te kry. Bernice se besorgde hand op sy voorkop help ook nie juis nie. As hulle nou sy polsslag neem, gaan hulle dink hy is sieker as wat hy is. “Wel, ek voel al ’n dag of twee koorsig. En moeg. Het gedink dis maar griep. En toe begin die hoofpyn.” “Wat nog?” “Naar, verskriklik naar. En sommer oor die algemeen ellendig.” “Jou arme, arme ding,” prewel Liana terwyl haar hand koel op sy voorkop rus. Werner gee haar ’n geïrriteerde kyk. “Was jy on langs in ’n gebied waar bosluiskoors voorkom?” sit hy sy ondervraging voort. “KwaZulu-Natal? Mpumalanga? Weet jy van ’n bytplek wat jy het?” Wel, daar het hy dit nou uit die perd se bek. “Ag nee, o hel, moenie vir my sê dis wragtig bosluiskoors nie.” Hy’t ’n goeie vyf jaar in KwaZulu-Natal gebly en nooit ’n besmette bosluisbyt opgedoen met al die veldwerk wat hy daar gedoen het nie. En nou, sowaar, noudat hy in ’n nuwe werksituasie sy voete moet vind, waar hy nie die sekuriteit van siekteverlof en mediese skemas het nie. “Ja, ek was. Het ’n groep vir veldwerk uitgevat. Dit was nog ’n laaste ding wat ek moes afhandel by my vorige pos.” Hy trek sy moue teensinnig op. En ja, by nadere ondersoek vind hy dit: die rooi kolletjie in die waai van sy regterarm. Die plekkie wat hom die afgelope dag of twee al soms pla, waaraan hy nie aandag gegee het nie. “Dan’s dit nooit anders nie. Die goed sit mos daar op die lang gras, g’n mens weet hoe kom hulle so vinnig op jou nie. Ek skryf vir jou ’n voorskrif uit . . . Of wag, ek sal sommer die goed gaan kry.” Werner se oë swaai na Klara, duidelik op soek na goedkeuring. Wel, as hy wat Ben is, darem al weer die onderstrominge tussen die klomp kan dophou, is hy seker nie so na aan dood as wat hy voel nie. Liana staan ’n treetjie nader aan Werner. “Wag, ek ry sommer saam met jou vir geselskap.” Ben is mateloos verlig oor Werner se aanbod. En dat Liana die geselskap gaan verlaat. Sy is gaaf en sy is vriendelik, ja, maar net ’n bietjie te gaaf en te vriendelik. “Dit sal baie help, dankie, Werner.” As hy nou nog ’n apteek moes gaan soek in die vreemde dorp, was sy doppie sweerlik geklink. “Dan moet julle my nou asseblief verskoon.” Hy moet regtig in sy eie huis in sy eie bed kom. Maar hoe om daar te kom? Sy ego sal sowaar nie nog ’n omkapslag kan hanteer nie. Maar Klara se slanke hand hou hom terug. “Nee, jy gaan nêrens nie. Bly ten minste hier tot Werner die medisyne gebring het. Ek sal gou saam met hulle uitstap.” So kom dit dan dat hy en Bernice alleen in die woonkamer oorbly. En Arsenal, natuurlik. “Ek is jammer dat ek jou uit die grond geval het,” mompel hy, steeds verleë. “Dis darem nie my gewoonte om in meisies se arms flou te raak nie.” “Dis niks,” glimlag sy. “Ek het al bosluiskoors gehad. Einste in daardie wildtuine in die noorde van KwaZulu opgetel. ’n Mens voel vir doodgaan . . .” “. . . maar jy gaan gelukkig nie so maklik dood nie,” voltooi hy die sin vir haar. “Ek het my kollegas dit al baie hoor kwytraak. Kan nie glo ek tel dit nou met my heel laaste trip op nie.” Hy skuif versigtig regop, sy kop voel darem nou weer asof dit redelik stewig op sy skouers sit. “Jy was regtig onnosel, Ben.” Haar oënskynlike simpatie was dus van korte duur. “Jy moes glad nie vandag opgestaan het nie. En hoegenaamd nie gisteraand uitgegaan het nie.” Hy het darem nog genoeg energie om hom bloedig te vererg. “Ek het dit gisteraand duidelik gemaak ek wil nie uitgaan nie. Dit was jy en Klara wat my gemaak uitgaan het.” Klara kom van buite af in. Noudat sy minstens tydelik van die Werner-vent ontslae is, lyk dit asof sy sommer weer entoesiasme vir die lewe het. “Ben, jy bly net hier, dat ons na jou kan kyk,” kondig sy onverwags aan. “Gee net vir my jou sleutel, dan gaan kry ek vir jou die nodige.” Ben skrik die steeds dreigende naarheid skoon weg. Vir hier bly sien hy definitief nie kans nie. Die moontlikheid van komplikasies is eenvoudig te groot, hoe aanloklik die aanbod ook al klink. “Dis nie nodig nie . . .” Hy klink omtrent so lamlendig soos hy voel. “Ek skuld jou.” Nou slaan die seer deur in Klara se stem. “Jy was vanoggend die weerligafleier hier. Ek het my doodgeskrik toe Werner weer voor my staan. Ek het gisteraand gedink dis laaste sien van die blikkantien.” “Klara, jy dink tog nie daaraan om weer die man terug te vat nie?” Bernice se wange word skoon pienk van verontwaardiging. “As ’n man eers een keer so ’n triek uitgehaal het, kan hy dit altyd weer doen.” Klara se kop sak in haar hande, haar hare maak ’n sluier oor haar gesig. “Ek het so gedink hy’s die regte een,” sug sy. “Maar natuurlik was ek weer hopeloos te haastig.” “Jy’t al oor verskeie ander ook gedink hulle is die regte een, Klara. En dit elke keer ná ’n skrale week of twee.” “Helaas, ja. Maar hierdie was die laaste keer. Van nou af lei ek ’n kuise en stil lewe, netjies op die rak met my voetjies hoog opgetrek. En ek kyk die kat behoorlik uit die boom van my rak af. Ek gaan my nie weer so laat vang nie.” Sy sluk ’n slaggie; haar hart is seker maar bitter seer. Maar sy gun haar net ’n paar oomblikke van swakheid, toe hou sy haar hand gebiedend na hom toe uit vir die sleutel. Ben kom wankelrig op die been. “Baie dankie, Klara, maar ek sal oukei wees by die huis. Werner sal seker nie omgee om die medisyne gou by my te kom afgee nie.” Hy wil regtig nie die meisies aanmoedig om saam met hom te stap nie. Sy huis is nie in ’n toestand om op trots te wees nie. Al wat op hulle plek is, is sy klippe en sy klavier. As sy ma darem moet sien hoe hy die klavier van die klippe gepak het . . . Daar is eenvoudig te min uitstalplek; hy sal moet rakke bou, miskien sy versameling tot sy studeerkamer beperk. Of ’n spesiale vertrek inrig. Maar anderdag. Vandag wil hy net slaap en slaap en eendag oor ’n lang ruk gesond en energiek wakker word. Tot sy verbasing protesteer die meisies nie verder nie. Dalk is albei se harte seerder as wat hulle wil voorgee. Klara het genoeg rede. En Bernice . . . Hy het nie ’n idee wat tussen Bernice en Darius aangaan nie. En dis beter so. Dit het niks met hom te doen nie. Hy stap alleen oor die straat terwyl hy homself probeer oortuig dis die beste as hy niks verder met Bernice te doen het nie. Hy soek mos nie komplikasies nie. Maar dit sou darem lekker gewees het as sy net so ’n klein bietjie geprotesteer het, so effens aangedring het hy moet daar bly. Net om die knaende onrustigheid in sy binneste so ’n bietjie te temper.     Haar grootste geskenk deur Marilé Cloete is ’n gratis boekbederf met die vriendelike samewerking van LAPA Uitgewers. Marilé se eerste omnibus, ’n Man vir altyd, verskyn in Augustus 2017. Besoek www.lapa.co.za vir nog boeke deur Marilé Cloete.

heading
description
username
Wys Kommentaar ()
Rand - Dollar
19.28
+1.2%
Rand - Pond
23.97
+1.4%
Rand - Euro
20.65
+1.3%
Rand - Aus dollar
12.76
+1.1%
Rand - Jen
0.14
+0.9%
Platinum
1,029.47
+2.4%
Palladium
1,408.13
-1.9%
Goud
1,961.28
+0.7%
Silwer
23.57
-0.2%
Brent-ruolie
76.13
+2.4%
Top-40
71,422
-0.8%
Alle aandele
76,603
-0.7%
Hulpbronne 10
69,348
-1.4%
Industriële 25
103,842
-1.2%
Finansiële 15
14,979
+1.2%
Alle JSE-data is met minstens 15 minute vertraag Iress logo
Blitsblik op ’n maatskappy

Volg die maatskappy se aandeelprys en lees nuwe Sens-verklarings en resultate hier.

Verkeer in jou area

Kies 'n area om verkeersvoorvalle op jou roete te sien.

Klik om te stel
Nuuswenke

Het jy 'n nuuswenk of storie wat jy graag met Netwerk24 wil deel? Stuur gerus 'n e-pos aan ons nuusspan.

Stuur 'n e-pos