Sy was net 24 jaar oud toe Velancia Sass van Atlantis in die Kaap ’n erf gekoop het met geld wat sy as skoonheidsterapeut op skepe gespaar het. Vanjaar, op 26-jarige ouderdom, het sy begin om ’n drieslaapkamerhuis op daardie einste erf te bou.
Boonop bedryf sy vandag ’n hoogs suksesvolle spa uit die voorkamer van haar ouerhuis. Nie sleg vir iemand wat nie geweet het watter kant toe ná matriek nie. Dat sy van nature ’n gedrewe persoon is, kom ’n mens egter gou tydens ’n telefoniese onderhoud agter. Velancia, die tweede oudste van vier kinders, het in 2013 aan Atlantis Sekondêr gematrikuleer.
Vooraf het sy daaraan gedink om iets soos maatskaplike werk te gaan studeer. “Ek het egter nie universiteitstoelating gekry nie,” verduidelik sy hoekom dit nie gebeur het nie. Dit was haar ma wat haar aangeraai het om ’n gapjaar te vat sodat sy haar kop kon skoonkry en vasstel of daar iets anders is wat sy graag sou wou doen. “’n Mens is maar ’n bietjie skaam omdat jy ná matriek by die huis is en ek wou so gou moontlik aan die gang te kom,” vertel Velancia. Daarom dat sy gekyk het of daar dalk programme is wat haar interesseer.