Vir baie Suid-Afrikaners is data al amper soos asem – iets waar-sonder jy nie meer kan klaarkom nie. Tot redelik onlangs kon jou data egter verval – asof dit soos ou, vrot groente “af” kon gaan.
“Ek kan dit eenvoudig nie verdra as ek dink ek het nog data, dan is dit net gone nie,” vertel Charmaine Eckleston (33) van Kuilsrivier in die Kaap. “Ek weet voor my siel ek het nog soveel en soveel oor en as ek weer sien, dan is dit weg en ek neem aan dit expire omdat ek dit nie gou genoeg gebruik nie. Maar dit is mos nie iets waaraan jy kan vat nie. Dis mos hier in die lug om ons, so hoe kan dit sleg of oud raak?” wonder sy.
Mathilda Fortuin (48), ’n ma van vier van Bloemfontein in die Vrystaat, sukkel nie net met data wat “verdwyn” nie, maar met hoe duur dit is. “Almal wil net heeltyd data, data, data hê. My kinders gaan deur dit soos hulle deur toiletpapier gaan. En met die dat ek nou ook in lockdown geleer het hoe om my foon lekker te gebruik, staan ek heel voor in die ry,” lag sy. “Maar dit is so duur ek kan myself amper nie kry om dit te koop nie, maar ek kan ook nie meer daarsonder klaarkom nie.”